Dis nog nie amptelik nie, maar Faf se dae by Lions lyk getel

Faf de Klerk se dae by die Lions lyk getel (Foto GB Jordaan)

Die Lions het nog nie amptelik ja gesê nie, maar tussen die reëls kan ʼn mens lees dat Faf de Klerk se dae by die Johannesburgse franchise getel is. Dit sal beteken sy dae as Springbok is ook agter die rug.

Die Sales Sharks het Maandag in ʼn verklaring bekend gemaak dat De Klerk by hulle geteken het. Hy sal saam met twee voormalige provinsiale kapteins, Jono Ross (Blou Bulle) en Josh Strauss (Lions/Goue Leeus) met die aanbreek van die volgende Britse seisoen by hulle inval.

Anders as in April, toe daar ook deur Sale gesê is De Klerk is na hulle op pad en die Lions voet by stuk gehou het dat die skrumskakel tot aan einde van sy kontrak in 2018 by die Lions sal bly, is Maandag se verklaring van die Lions Rugbymaatskappy se uitvoerende hoof Rudolf Straeuli meer tegemoetkomend as in April.

Dit blyk dat ʼn oordragfooi die hoofrede vir die Lions se goedkeuring mag wees.

Straeuli se verklaring lui:

“Die Lions Rugbymaatskappy kan bevestig dat hulle in onderhandelinge met die Sale Sharks betrokke is rakende die kontrakaanbieding wat aan die Emirates Lions se skrumskakel Faf de Klerk gemaak is, en sal ʼn verklaring oor die kontrak uitreik sodra die speler terug is in Suid-Afrika.

“Die span fokus op hulle derde toerwedstryd en ʼn amptelike aankondiging sal eers na hulle terugkeer gemaak word.”

Die Lions speel Vrydag teen die Brumbies en is Sondag terug in Suid-Afrika.

♦  ʼn Mens weet nie waarom nie, maar De Klerk is in ʼn jaar van skrumskakeldroogte glad nie na die laaste oefenkamp van die Springbokke genooi nie.

Boonop was hy die seisoen meermale op die bank as die Lions opdraf, en is hy verlede jaar ook ʼn paar keer oor die hoof gesien, moontlik oor rotering van spelers.

Dit mag wees dat Allister Coetzee, met die hulp van Franco Smith en Brendan Venter, vanjaar tot ander insigte oor De Klerk se deugde gekom het.

♦  Ondanks goeie breekslae van veral die losskrums af wat dikwels sy span groot bresse help slaan het, het De Klerk egter met die belangrikste take van ʼn skrumskakel. Sy uitgeë, en taktiese aanvoeling en -skopwerk, het  nooit werklik oortuig nie.

Hoewel daar nie ʼn bang haar op sy kop is nie en De Klerk nooit op die verdediging teruggedeins het nie, het die veel groter spelers hom ook te dikwels ook in dié faset laat kleitrap.

♦  Volgens bespiegelinge sal De Klerk R21 miljoen oor drie jaar by Sale verdien wat hom een van die hoogsbetaalde spelers in die Engelse Premierliga sal maak. En deur sommer net losweg sommetjies te maak, sal hy as hy sowat 30 wedstryde per jaar speel, ongeveer R200 000 per wedstryd verdien. (Bygesê, dan word sy sowat 35 oefenweke oefen- en reistyd nie in ag geneem nie.)

Sou De Klerk wel Salo toe vertrek, sal hy met sy 11 toetse eers weer in 2019, in die Wêreldbekerjaar, weer vir die Bokke in aanmerking kan kom na die SA Rugby-besluit dat net oorsese spelers met meer as 30 toetse gekies mag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ChrisH ·

Ek dink dit is n goeie skuif vir Faf na Sale. Nie net vir die geld nie, maar is vir sy spel.
Ek is n groot Leeu ondersteuner maar ek dink nie sy aangee werk en taktiese skopwerk is goed genoeg op Internasionale vlak noe. Hy is nog jonk en sal baie kan leer. Hy kan dan as n afgeronde speler met baie ervaring terug keer.
Quotas gaan hom in elk geval nie n kans gee by die Bokke nie. So hy moet gaan speel waar hul sal betaal vir sy diens.

Henk ·

As mens kyk na wat ń ruk in die buiteland vir Percy destyds gedoen het, stem ek met jou saam.

Frans C ·

Die voorgenome kontrak is vir drie jaar,wat ‘n gemiddelde verdienste van R7 miljoen per jaar
beteken.Daar is geen Unie in Suid Afrika wat dit kan betaal nie.

Danie ·

Ons gaan hom in elk geval nie veel mis nie dink daar is baie beter gehalte skrumskakels as ou klein mannietjie sindroom,as hy sy hare sny weeg hy ook nie veel met sy houding nie

marthie ·

hoe dit ookal sy die keuse bly Faf sin en Saru moet besin ons verloor te veel spelers. En R7m per jaar is nie te versmaai

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.