Dupont se kop staan sewes toe

Antoine Dupont. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.)

As ʼn Wêreldbeker-wennersmedalje hom nie beskore is nie, dan wil Antoine Dupont Olimpiese goud jaag.

Met die Olimpiese Spele in Parys om die draai staan Frankryk se rugbytalisman, skrumskakel en kaptein se kop sewesrugby toe.

“Om vir ʼn Olimpiese medalje te speel is iets wat my beslis motiveer,” het die 27-jarige ster gesê nadat hy as die Top 14-speler van die jaar aangewys is.

Opofferings is dikwels die wagwoord wanneer daar oor drome gepraat word en Dupont se vyftienman-spel sal waarskynlik, vir ʼn rukkie altans, na die passasiersitplek geskuif word.

Hy sal in Januarie – net vóór die blitsrugbytoernooie in Kanada en Los Angeles – by die Fransmanne se seweskamp aanmeld.

Dit beteken dat Dupont die Sesnasiestoernooi sal misloop.

“Daar sal noodgedwonge ʼn aanpassing of twee wees. Ek sal weliswaar nie in elke liewe wedstryd kan speel nie, maar daar sal opofferings gemaak moet word sodat ek voldoende tyd saam met die span kan deurbring.”

Maar sal hy ʼn goeie sewesspeler wees?

“Vir seker,” is Vlok Cilliers se kort en kragtige antwoord.

Die voormalige Springbok het die Franse skoppers tydens die pasvoltooide Wêreldbekertoernooi bygestaan en hy meen dat Dupont ʼn speler van wêreldgehalte met ongelooflike werksetiek en talent is.

Die complete package soos wat die Engelsman sou sê.

Dupont se vaartversnelling op ʼn rugbyveld is uit die boonste rakke, terwyl sy aanvoeling vir die spel ook gereeld sy teenstanders onder kwaai druk plaas. Terselfdertyd verdedig hy soos ʼn wafferse losvoorspeler.

Hy kan dus vir ʼn vuurwerkvertoning of twee op die sewesrugbyveld sorg.

Hooper gaan ook ʼn sewestrui dra

Michael Hooper. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Michael Hooper, oudkaptein van die Wallabies, het ook bevestig dat hy vir Australië se sewesrugbyspan wil speel.

Die 32-jarige losvoorspeler was saam met Quade Cooper nie deel van Eddie Jones se rampspoedige Wêreldbeker-veldtog nie en hy is oorgehaal om tot Australië se sewessukses by te dra.

“Ek is baie opgewonde oor die vooruitsig om sewesrugby te speel en om my plek in die span te verdien,” het die vyftienman-veteraan van 125 toetse gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.