Dweba maak sy Stormers-buiging

Joseph Dweba. Foto: GB Jordaan.

Joseph Dweba, die Springbok-haker, sal môre sy buiging vir die Stormers maak wanneer die Kapenaars vir Edinburgh op die DHL-stadion aanvat.

Die 26-jarige Dweba het al rugby vir die Cheetahs en Bordeaux gespeel, terwyl hy ook al ʼn paar keer vir die Springbokke in aksie was.

Hy het egter met sy spelpeil in die afgelope Rugbykampioenskap gesukkel en baie Springbok-ondersteuners het die besluit bevraagteken om hom bó Malcolm Marx in die opdrafspan in te sluit.

In die Ellispark-toets het Dweba net een keer die bal gedra en een Nieu-Seelander getêkkel, terwyl hy ook met sy ingooie by die lynstane gesukkel het. Daarteenoor het Marx 11 suksesvolle duikslae uitgevoer, omgekeerde balbesit bewerkstellig en suiwer diens in die lynstane gelewer.

Nietemin is John Dobson opgewonde oor Dweba se vooruitsigte in die Kaap.

“Joseph het ʼn bietjie liefde, ondersteuning en tyd op die veld nodig,” het die Stormers-afrigter in die media gesê.

“Hy kan beslis ʼn lynstaan suiwer voer, maar dit is sy skrumwerk wat my die meeste beïndruk het. Hy is baie sterk gebou en wanneer jy die krag van ons stutte in ag neem (teen Edinburgh sal dit Neethling Fouché en Ali Vermaak wees), voorspel ek ʼn opwindende pad vorentoe.”

Ander internasionale spelers soos Damian Willemse, Evan Roos, Deon Fourie, Salmaan Moerat en Herschel Jantjies is ook deel van die Stormers planne vir môre se wedstryd, terwyl Marvin Orie die span op die veld sal aanvoer.

Die wedstryd begin om 14:00 en dit sal op SuperSport uitgesaai word.

Stormers: Clayton Blommetjies (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Dan du Plessis (buitesenter), Damian Willemse (binnesenter), Angelo Davids (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Paul de Wet (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Hacjivah Dayimani (flank), Deon Fourie (flank), Marvin Orie (slot en kaptein), Salmaan Moerat (slot), Neethling Fouché (stut), Joseph Dweba (flank) en Ali Vermaak (stut). Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Brok Harris, Sazi Sandi, Adré Smith, Ernst van Rhyn, Junior Pokomela, Herschel Jantjies en Sacha Mngomezulu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Dink nie enigeiemand anders is opgewonde nie! André-Hugo Venter is 100 maal beter, soe verwag hy sal in die 30ste minuut op gestuur word om te red wat ter redde is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.