Etzebeth terug in Sharks-vyftiental

Eben Etzebeth. (Foto: Romain Perrocheau/AFP.)

Die sukkelende Sharks het ʼn welkome Springbok-momentuminspuiting met die terugkeer van spelers soos Eben Etzebeth, Ox Nche en Grant Williams gekry.

Etzebeth is saam met Jaden Hendrikse en Makazole Mapimpi in die Durbaniete se opdrafspan teen die Dragons op Kingspark, terwyl Ox Nche en Grant Williams op die plaasvervangersbank is.

Die Sharks kon nie een van hul eerste vier Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde wen nie en hulle geniet tans houtlepelstatus op die amptelike punteleer.

Dave Williams, aanvalsafrigter, hou egter duim vas dat die terugkeer van die span se Springbokke vir ʼn positiewe uitslag sal sorg.

“Die terugkeer van die Wêreldbeker-wenners beteken dat die groep se energievlakke beslis styg. Hul selfvertroue is aansteeklik en almal is opgewonde oor Saterdag se wedstryd.”

Hardebaardspelers soos Bongi Mbonambi, Francois Hougaard en Vincent Tshituka is steeds op die krukkelys en word nie vir die wedstryd oorweeg nie.

Die aksie begin Saterdag om 19:05 en die kragmeting word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), Werner Kok (regtervleuel), Lukhanyo Am (kaptein en buitesenter), Francois Venter (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Sikhumbuzo Notshe (agtsteman), Phepsi Buthelezi (flank), James Venter (flank), Emile van Heerden (slot), Eben Etzebeth (slot), Coenie Oosthuizen (stut), Fez Mbatha (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: Daniel Jooste, Ox Nche, Hanro Jacobs, Corné Rahl, Lappies Labuschagne, Grant Williams, Boeta Chamberlain en Rohan Janse van Rensburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.