Faf: Bokke moet vir 80 minute spéél

Faf de Klerk in aksie op die oefenveld. (Foto: GB Jordaan)

Dit is ʼn nuwe naweek met nuwe teenstanders en nuwe spelers in die span, maar die Springbokke sal op die spogvertoning teen die Wallabies wil voortbou wanneer hulle Saterdag swaarde met die All Blacks in Auckland kruis.

“Ons het genoeg diepte in ons span wat ons toegelaat het om spelers vroeër na Nieu-Seeland te stuur om te akklimatiseer. Maar die ouens het ons verlede week gewys hoe dit gedoen word en ons sal ons sokkies moet optrek om op daardie vlak te bly,” het Faf de Klerk gesê.

Die blonde skrumskakel, wat Saterdag saam met Damian Willemse die skakelpaarskoene van Cobus Reinach en Damian Willemse volstaan, weet dat die Suid-Afrikaners dit nie kan bekostig om te gaan lê nie.

Veral nie teen ʼn gevaarlike span soos die All Blacks nie.

“Die grootste uitdaging wat op ons wag, is die feit dat die All Blacks iets uit niks kan maak. Ons kan nie op ons louere rus nie. Ons sal te alle tye op en wakker moet wees, want Nieu-Seeland gaan jou op die telbord straf wanneer jy konsentrasie verloor.”

Die All Blacks sal altyd gedugte teenstanders bly. (Foto: GB Jordaan)

Voglens De Klerk is die All Blacks die maatstaf waarteen ander spanne hul vordering meet.

“Hulle is ʼn span van wêreldgehalte en as ons met ʼn stewige vertoning teen hulle vorendag kom, weet ons dat die span in ʼn goeie plek [in aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi] is.”

ʼn Vlieënde Kurt-Lee Arendse het saam met Manie Libbok, André Esterhuizen en Wille le Roux vir hope slaankrag teen die Wallabies gesorg en dit sal interessant wees of dié Bok-span ʼn soortgelyke benadering sal volg.

Jacques Nienaber, Springbok-afrigter, het Dinsdag gesê dat goeie verdediging ʼn deurslaggewende rol teen die All Blacks speel.

“Nieu-Seeland het ʼn sterk pak voorspelers en gevaarlike agterspelers. Hulle het juis verlede week [teen Argentinië] gewys wat hulle kan doen wanneer hulle genoeg spasie op die veld het. Ons sal ongetwyfeld op alle suiers moet vuur en ons verdediging sal rotsvas moet wees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.