Faf en Cheslin gereed vir aksie

Cheslin Kolbe. (AP Photo/Mark Baker)

Hulle is twee van die Springbokke se voorste rugbyspelers en ’n onbetwisbare bewys dat alles nie om ’n speler se grootte in internasionale rugby hoef te draai nie.

Nou – ná ’n lekker Europese rugbyavontuur saam met Toulouse en die Sale Sharks – is Cheslin Kolbe en Faf de Klerk gereed om die Britse en Ierse Leeus aan te vat.

Al twee spelers is vir die SA A-span gekies wat môre teen Warren Gatland se toerspan op die Kaapstad-stadion speel. De Klerk sal die nommernegetrui oor sy kop trek, terwyl Kolbe sy toertjies op regtervleuel sal uitstal.

En hulle kan nie wag om weer in die groen en goud te speel nie.

“Ons gee ons beste en ons speel vir mekaar. Die ouens is opgewonde en hulle wil vuur met vuur op die veld beveg,” het Kolbe gesê.

Die Leeus het in hul drie toerwedstryde reeds 179 punte aangeteken terwyl hulle amper tien drieë per wedstryde druk. Die Haaie het hulle weliswaar vir die eerste 40 minute van hul tweede ontmoeting op Loftus Versfeld in toom gehou, maar die damwal het ná Jaden Hendrikse se rooi kaart gebars en die besoekers het die wedstryd uiteindelik op ’n drafstap met 71 – 31 gewen.

“Hulle is ’n goed gebalanseerde span – daar is groot ouens en spelers wat met die bal kan hardloop. Ek het teen hulle in Europa gespeel en ek is maar net te deeglik bewus van wat hulle op ’n rugbyveld kan doen,” het Kolbe gesê.

“Ons het ’n groot uitdaging teen ’n goeie Britse en Ierse Leeus-groep; maar ek sien baie na die wedstryde uit.”

Faf de Klerk vier ‘n drie (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Daarteenoor sal De Klerk môre teen Ierland se Conor Murray te staan kom. Hoewel die Munster-skrumskakel ’n goeie speler is, is die Suid-Afrikaner een van die bestes ter wêreld.

“Sedert die Wêreldbeker-eindstryd speel Faf amper daagliks met meer selfvertroue,” het Conrad Breytenbach, oudskrumskakel van die Blou Bulle, aan Maroela Media gesê.

Volgens Breytenbach kan enige skrumskakel ’n bal uitgee en sy werk op die veld verrig. Maar wat van iemand ’n spesiale no. 9 maak, is daardie ekstra dinge soos om druk op die teenstanders se losskakel te plaas, kruisverdediging en goeie lyne te hardloop.

“Faf se werkverrigting, buiten sy normale pligte as ’n skrumskakel, is ongelooflik hoog gedurende ’n wedstryd en dit laat hom beslis bo ander uitstyg.”

Breytenbach voel dat De Klerk se dapperheid – hy is nie bang vir veel groter spelers nie – en sy bulterriër-houding op die veld van sy groot sterkpunte is.

Hoewel die Suid-Afrikaner respek vir Murray se vermoëns agter die skrum het, weet hy dat dit dom sal wees om net op een van sy teenstanders te konsentreer.

“Die Leeus het goeie spelers wat maklik by enige situasie kan aanpas; dus is daar ’n baie groter uitdaging as net Murray wat op ons wag,” het De Klerk gesê.

“Ek het die jaar saam met die Sale Sharks geniet, maar dit is spesiaal om weer ’n kans in die Springbok-trui te kry.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.