Faf, Lood weer ysters

(Foto: pixabay)

Dit is ʼn groot jammerte dat die vier Suid-Afrikaanse Super-franchises, die Bulls, Lions, Sharks en Stormers, nie nou al met die topspanne in die Engelse Premierliga sal kragte meet nie.

Europa se Top-14-spanne is wel op die spyskaart wanneer die beplande Reënboogreeks hopelik in April afskop.

Dan sal die room van Suid-Afrika teen die bestes van Ierland, Wallis, Skotland en Italië gemeet word.

Dit sal steeds baie hoë eise aan die Suid-Afrikaners stel, want geen genadebrood sal uitgedeel word wanneer veral teen Munster, Ulster, Leinster en Connacht in Ierland gespeel word nie.

Munster, wat deur Johann van Graan afgerig word, het Vrydagaand seker gemaak dat hy bo-aan Afdeling B van die Pro14 eindig toe hy Connacht met 20 – 17 geklop het.

Toe Van Graan ʼn seisoen of drie gelede by Rassie Erasmus (en Jacques Nienaber) oorgeneem het, het hy nie slapende honde wakker gaan maak nie en op die grondslag voortgebou wat Munster oor die jare heen so gedug gemaak het.

Nie enige tierlantyntjies nie; hou by die basiese beginsels.

Munster speel in die eindstryd (die eerste keer sedert 2017) van die Pro14-reeks op 27 Maart teen óf Leinster óf Ulster, wat Saterdagaand sake in Afdeling A uitspook.

* In die Engelse Premierliga het die Sale Sharks, met agt Suid-Afrikaners in die groep, tot tweede plek in die Engelse Premierliga opgeskuif nadat hulle die Newcastle Falcons met 31 – 16 geklop het.

Oudergewoonte het Faf de Klerk die oog getref met Lood de Jager (wat ʼn drie gedruk het) en Cobus Wiese wat voorlangs die vuur gestook het.

Toe Akker van der Merwe, Coenie Oosthuizen en die drie Du Preez-broers, Robert, Daniel en Jean-Luc, verdere plofkrag in die tweede helfte verskaf het, was dit gedane sake vir die Falcons.

Die oud-Haai-skrumskakel Louis Schreuder het vir die Falcons gespeel, maar De Klerk het die tweestryd gewen.

* Die Leicester Tigers, wat Kobus van Wyk, Luhan de Bruin en Cyle Brink in hul span gehad het, het London Irish met 33 – 32 geklop.

London Irish het 20 strafskoppe afgestaan en net met 13 spelers ná ʼn rooi- en ʼn geelkaart geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.