Faf wil impak in Japan maak

Faf de Klerk vier ‘n drie (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Rugby in Japan is deesdae ’n ernstige storie.

Verskeie Springbokke, onder wie Willie le Roux, Pieter-Steph du Toit, Kwagga Smith, Jesse Kriel en Malcolm Marx, speel hul rugby in dié land, terwyl die Japanse nasionale span lank nie meer kanonvoer op die wêreldverhoog is nie.

Nou pak Faf de Klerk ook binnekort sy tasse om deel van die Yokohama Canon Eagles-opset te word.

“Sedert die 2019-Wêreldbeker het ek nog altyd geweet dat ek een of ander tyd in my loopbaan in Japan sal wil speel. Nou het dit ’n werklikheid geword en ek kan nie wag om deel van alles te word en hopelik ’n groot impak te maak nie,” het De Klerk gesê.

Die 30-jarige skrumskakel lewer deesdae goeie spel vir die Sale Sharks, maar met die salarisplafon wat geld, sukkel Engelse klubs om van hul sterspelers te behou.

Hy het in 2017 sy buiging vir Sale gemaak nadat hy in Suid-Afrika sy rugby vir die Leeus en die Pumas gespeel het.

Toegegee, hy word gereeld oor sy alewige geskoppery in die Springboktrui gekritiseer, maar in 2019 was De Klerk die gewildste speler onder Maroela Media-lesers ná die Suid-Afrikaners se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in Japan.

Daarbenewens beïndruk hy gereeld met sy dapperheid en werkverrigting – hetsy vir die Springbokke of vir Sale – terwyl teenstanders weet dat die blonde buksie vir niemand sal terugstaan nie.

“Faf se werkverrigting, buiten sy normale pligte as ’n skrumskakel, is ongelooflik hoog gedurende ’n wedstryd en dit laat hom beslis bo ander uitstyg,” het Conrad Breytenbach, oudskrumskakel van die Blou Bulle, in ’n destydse onderhoud met Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Hy is een hardwerkende speler en glad nie bang om baie groter manne te lak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.