Faf tans ‘beste’ in wêreldrugby

Faf de Klerk vier ‘n drie (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Mark Baker)

In Nieu-Seeland trek Aaron Smith die toutjies terwyl Ben Youngs en Antoine Dupont soms sorg dat ondersteuners in Europa meer regop op hul rusbanke sit.

Maar tans is daar eintlik net een ware skrumskakel in wêreldrugby. En sy naam is Faf de Klerk.

Sedert sy heldedade in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi – dít nadat hy vroeër in die toernooi hewig onder ondersteuners deurgeloop het omdat hy te veel besit weggeskop het – speel die 28-jarige Nelspruit-boorling van sy beste rugby nóg.

Hy is tans ’n yster vir die Sale Sharks waar hy met sy suiwer aangeë, visie, vernuf en werkverrigting beïndruk. Met sy wapperende blonde lokke en parmantige houding – ʼn mens twyfel of die plaaslike ondersteuners al van sy swembroekie-ontmoeting met prins Harry vergeet het – geniet hy ongetwyfeld ook heldestatus in Engeland.

In ’n onlangse wedstryd teen die Bristol Bears het De Klerk ’n drie gedruk, 61 meter met die bal gevorder en ’n rits verdedigers geklop. Boonop het hy nie ’n enkele duikslag gemis nie.

Volgens oudskrumskakel Conrad Breytenbach, die man wat die openingsdrie vir die Blou Bulle in die Curriebeker-eindstryd van 1998 gedruk het, is De Klerk ongetwyfeld die beste no. 9 ter wêreld.

(Foto: GB Jordaan)

“Sedert die Wêreldbeker-eindstryd speel hy amper daagliks met meer selfvertroue,” het Breytenbach aan Maroela Media gesê.

Volgens Breytenbach kan enige skrumskakel ’n bal uitgee en sy werk op die veld verrig. Maar wat van iemand ’n spesiale no. 9 maak, is daardie ekstra dinge soos om druk op die teenstanders se losskakel te plaas, kruisverdediging en goeie lyne te hardloop.

“Faf se werkverrigting, buiten sy normale pligte as ’n skrumskakel, is ongelooflik hoog gedurende ’n wedstryd en dit laat hom beslis bo ander uitstyg.”

Breytenbach voel dat De Klerk se dapperheid – hy is nie bang vir veel groter spelers nie – en sy bulterriër-houding op die veld van sy groot sterk punte is.

Die foto van Joost van der Westhuizen is op 24 Junie 1995 geneem. Foto: (AP Photo/John Parkin, file)

Maar hoe vergelyk hy met die legendariese Joost van der Westhuizen?

Hoewel dit onregverdig is om spelers uit verskillende eras met mekaar te vergelyk, behoort Breytenbach die perfekte persoon te wees om hierdie vraag te beantwoord; hy het immers saam met Van der Westhuizen om die Bulle so no. 9-trui meegeding.

“Joost het ’n X-faktor gehad wat beteken het dat hy net pleinweg dinge op die veld reggekry het; soos om links agter die skrum weg te breek en ’n drie op Murrayfield te druk. Hy het oor toorkunsies beskik. Daarteenoor werk Faf baie hard en skep hy sy eie geluk op die veld.”

Tog is dit duidelik dat Faf de Klerk vir niemand die knie op ’n rugbyveld buig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Ons stel nie meer belang in enige sport in SA nie.Geen.Niks Zero.Maak toe,skakel af en vat weg.

Kirst ·

Jy het die afstandbeheer in die hand, so jy kan self afskakel. En as jy nie meer belangstel in enige sport in SA nie, wonder ek hoekom jy die artikel oor ‘n Suid-Afrikaanse speler kom lees het. Dit was ook jou keuse om oor te slaan…

Adam Adriaan ·

Voorwaar voortreflike rugby speler. Onthou ‘n mens oordeel altyd ‘n persoon binne sy generasie. So dit is nie wys om spelers te vergelyk wat nie in dieselfde era gespeel het nie. Hierdie geld vir alles en op alle vlakke van die samelewing.

Niklaas ·

Ek het nog altyd gedink hy is Die Leeus se beste , maar is toe daar deur Ros Cronje uitgehou , wat vir my vreemd was . Met die wereldbeker in Japan was hy die bokke se een ster , ten spyte van al die kritiek wat gelewer is deur die kenners oor sy “alewige geskop” soos ek elke dag moes hoor. Maar dit gewerk vir Rassie en kie. En die res is geskiedenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.