Fidji draai die horlosie 69 jaar terug

Isoa Nasilasila (regs) en Temo Mayanavanua (links) van Fidji vier hul span se oorwinning. (Foto: Francis BOMPARD / AFP)

Dit was ʼn baie lang gewag … altesame 69 jaar.

Fidji se rugbyspan het Sondagmiddag in die Stade Geoffroy-Guichard in Saint-Étienne in Frankryk daardie lang verloordroogte teen die Wallabies gebreek toe hy hul wedstryd in Groep C van die Wêreldbeker-rugbytoernooi met 22-15 teen die Aussies gewen het nadat hy rustyd met 12-8 voor was.

Dit het laas in 1954 gebeur dat die Fidjiane ʼn oorwinning oor die Wallabies kon smaak, en dit was stroopsoet.

Die spelers het op hul knieë neergesak, skietgebede opgesê en na bo gewys terwyl die trane gevloei het.

Eintlik was dit ʼn klap in die gesig van die rugbybase, want die 15-manspel moes jare gelede al behoorlik in Fidji ontwikkel gewees het.

Maar al die aandag is eerder aan Fidji se sewesspan gegee terwyl die All Blacks, Wallabies en Franse links en regs Fidjiane opgeraap het.

Wallis is steeds voor in Groep B met tien punte, met Fidji en Australië (albei ses) nadat die Wallabies ’n bonuspunt teen Fidji verower het deur met sewe of minder punte te verloor.

Die Wallabies speel volgende Sondag in Lyon teen Wallis in ʼn maak-of-breekwedstryd, terwyl Fidji in sy volgende wedstryd op 30 September teen Georgië in Bordeaux speel.

Die Fidjiane het hul openingswedstryd teen Wallis met 26-32 verloor en hul Wêreldbekerdrome sou allig met ʼn tweede nederlaag daarmee heen gewees het.

Fidji is glad nie die volmaakte produk nie, maar aan opwinding skiet beslis nie tekort nie.

Hulle het vaart, ondernemingsgees en hul hantering en vaartversnelling lok die toeskouers in hul duisendtalle.

Ja, hul speldissipline kan steeds verbeter en bly maar weg van daardie hoëvatte.

Die Wallabies kan maar net kopskud. Hoe kon hulle verwag het om te wen deur 18 strafskoppe af te staan?

Dis ʼn vingerwysing na die afrigter Eddie Jones, want hy moet pa staan vir die spankeuse, spelpatroon en speldissipline.

Puntemakers: Fidji 22 (12): Drie: Josua Tuisova. Doelskop: Simione Kuruvoli. Strafdoele: Kuruvoli (4), Frank Lomani.

Australië 15 (8): Drie: Mark Nawaqanitawase, Suli Vunivalu. Doelskop: Ben Donaldson. Strafdoel: Donaldson

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

kragaap ·

Fiji het fantasties gespeel. Het afbreek punte gedomineer, Aus 17 strafskoppe afgestaan. Nie ‘n span on sonder handskoene aan te pak nie.

Witwolf ·

My vraag is of die reël, dat as jy vir bv. vir ‘n ander land soos Nieu-Seeland gespeel het, jy dan vir Fiji, Samoa of Tonga mag speel, nog geld?

Frans ·

Noudat die All Blacks an Wallabies nie meer links en regs Fijiane en ander Suid See eilande kan inspan en Suid Afrika uit die superreeks geskop het kry hul die wind van voor en is oorwinnings nie meer vanselfsprekend nie.

Andrew ·

Rugby Australia het sy bed in 2019 gemaak. daai vrou wat hoof van Aus Rugby was toe is nou hoof van NZ sport.

SwartBees ·

Wat nou Eddie? (Lankal)Tyd om jou afrigters fluitjie op te hang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.