Flinke Franse verneder Italianers

Die Franse rugbyspan vier sy oorwinning teen Italië. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Selfs in Antoine Dupont se afwesigheid het die Hane agt drieë teen Italië gedruk om as die wenners van Groep A vir die Wêreldbeker-kwarteindstryde te kwalifiseer.

Terwyl die invloedryke kaptein en skrumskakel die aksie vanuit sy pawiljoensitplek volg, het Damian Penaud en kie Vrydagaand amok teen die Italianers gemaak om die kragmeting met 60 – 7 beklink.

Die aanvallende Franse het 513 m met die bal in hand gevorder, terwyl hulle 22 keer die pizza-kenners na lug laat gryp het. Terselfdertyd het hul slim skopwerk ook gereeld die telbord aan die gang gehou; hetsy deur Thomas Ramos se akkurate stelskopwerk, of danksy ʼn paar uitstekende steekskoppies wat gereeld deur gewillige hande op pad na die doellyn opgevolg was.

“Ons het gedoen wat daar van ons verwag is. Almal het geweet dat ons die wedstryd moes wen en ons het dit op ʼn drafstap gedoen,” het Maxime Lucu gesê.

Die 30-jarige speler, wat in Dupont se afwesigheid die nommernegetrui vir die Franse gedra het, was trots op sy spanmaats se werksetiek.

“Ons wou sommer vanuit die staanspoor ons stempel op die wedstryd afdruk en ons het met uitstekende dissipline gespeel.”

Lucu se skakelmaat, Matthieu Jalibert, meen dat Frankryk sy voet op die versnelpedaal gehou het.

“Ons het nie vir een oomblik gaan lê nie en vir die volle 80 minute met dieselfde intensiteit gespeel,” het die Bordeaux-losskakel gesê.

As die wenners van Groep A sal Frankryk teen die naaswenners van Groep B in volgende naweek se kwarteindstryd te staan kom.

  • Puntemakers:

Frankryk: Drieë: Damian Penaud (2), Yoram Moefana (2), Louis Bielle-Biarrey, Thomas Ramos, Matthieu Jalibert en Peato Mauvaka. Doelskoppe: Ramos (6) en Melvyn Jaminet. Strafskoppe: Ramos en Jaminet.

Italië: Drie: Manuel Zuliani. Doelskop: Tommaso Allan.

  • Groep A-punteleer:
  1. Frankryk: 18 punte ná vier wedstryde
  2. Nieu-Seeland: 15 punte ná vier wedstryde
  3. Italië: 10 punte ná vier wedstryde
  4. Uruguay: 5 punte ná vier wedstryde
  5. Namibië: geen punte ná vier wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.