Foto’s: Bulle breek wendroogte

Die Bulle se Elrigh Louw op die oorlogpad. (Foto: GB Jordaan).

ʼn Bloubulspan gelaai met sy Verenigde Rugbykampioenskap-sterre het ses drieë teen Griekwas in ʼn Curriebekerwedstryd op Loftus Versfeld gedruk.

Die tuisspan het ʼn eensydige kragmeting met 40–3 beklink.

Vóór gister se triomf het die Pretorianers tien wedstryde op ʼn streep in alle kompetisies verloor, terwyl hulle ook tweede viool teen die Pumas en die Griffons in die Curriebekerreeks gespeel het.

Maar met ʼn agttal wat op alle suiers gevuur het en Kurt-Lee Arendse wat saam met Embrose Papier en Canan Moodie die kitaar in die agterlyn geslaan het, het die tuisspan nou hopeloos te veel skietgoed vir die manne van Kimberley gehad.

Die Bulle is egter steeds tweede laaste op die amptelike punteleer.

Volgens Russell Winter geniet die tuisspan die sege – dit is immers iets wat vir die afgelope paar weke so skaars soos hoendertande in Pretoria was – maar hulle gaan beslis nie nou al die braaivleisvuur aansteek nie.

“Die spelers het vir die afgelope paar weke hul bes gedoen om wedstryde te wen en ek glo dat ons darem nou so ʼn bietjie momentum het waarop ons kan voortbou. Daar lê egter nog baie harde werk voor,” het die Bulle se assistent-afrigter gesê.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Ruan Vermaak, Mornay Smith, Cyle Brink, Embrose Papier, David Kriel en Gerhard Steenekamp. Doelskoppe: Chris Smith (5).

Griekwas: Strafskop: George Whitehead.

  • Curriebeker-punteleer:
  1. Pumas: 20 punte
  2. Cheetahs: 15 punte
  3. Haaie: 14 punte
  4. Leeus: 13 punte
  5. Westelike Provinsie: 10 punte
  6. Griekwas: 10 punte
  7. Blou Bulle: 8 punte
  8. Griffons: 5 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.