Franco groet Cheetahs ná Munster-wedstryd

Franco Smith (Foto prorugby12.com)

Die Pro14-wedstryd tussen die Cheetahs en Munster in Bloemfontein sal Franco Smith se laaste kragmeting aan die stuur van Vrystaatse afrigtersake wees.

Smith, wat vir ses jaar die Cheetahs se hoofafrigter was, vertrek binnekort na Italië waar hy as die Azzurri se nasionale afrigter aangestel is. Die oud-Matiebreier, Hawies Fourie, sal dan amptelik die leisels by Smith in Bloemfontein oorneem.

“Ek het nog altyd geglo dat goeie mense goeie spelers is. Ons wou ’n spesifieke soort kultuur by die Cheetahs vestig – nie net ’n wenkultuur nie, maar ook een waarmee ons die toeskouers kan vermaak,” het Smith gesê.

“Die spelers het altyd hul beste vir mekaar en vir hul ondersteuners gegee en ek kon nooit een van hulle se toewyding bevraagteken nie. Trouens, selfs wanneer ons nie altyd gewen het nie, het die ouens met dieselfde toewyding geoefen en gespeel. En as afrigter kan jy nie meer van jou spelers vra nie.”

Teen Munster sal Smith kragte met Johann van Graan meet – ’n afrigter wat hy baie goed ken. En hoewel die Iere 12 spelers aan Wêreldbeker-verpligtinge afgestaan het, weet Smith net hóé gevaarlik hulle kan wees.

“Hul Wêreldbeker-eksodus het baie ontwrigting veroorsaak en daar is ’n spul nuwe spelers in hul beginspan. Ek ken egter vir Johann baie goed en hy gee vir baie nuwe ouens kans juis omdat hy hulle ook tydens die Sesnasies-rugbyreeks sal benodig. Munster word baie goed bestuur en afgerig.

“Ons ken mekaar baie goed en hy weet hoe ek dinge doen. Hy was voor my die aanvalsafrigter by die Springbokke en hy is deeglik bewus van ons spelers se sterk en swak punte.”

  • Die wedstryd skop vanaand om 18:15 in Bloemfontein af en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
  • Cheetahs: Rhyno Smith (heelagter), William Small-Smith (regtervleuel), Benhard Janse van Rensburg (buitesenter), Louis Fouché (binnesenter), Anthony Volmink (linkervleuel), Tian Schoeman (losskakel), Ruan Pienaar (kaptein en skrumskakel), Henco Venter (agtsteman), Junior Pokomela (flank), Gerhard Olivier (flank), Walt Steenkamp (slot), Sintu Manjezi (slot), Luan de Bruin (stut), Joseph Dweba (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Reinach Venter, Boan Venter, Neethling Fouché, JP du Preez, Sias Koen, Jasper Wiese, Tian Meyer, Clayton Blommetjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.