Frankryk betaal duur vir rooi teen Wallis

Wallis vier Ross Moriarty se drie (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Christophe Ena)

ʼn Oomblik van waansin het die Franse rugbyspan se Wêreldbekerdrome Sondagoggend in Oita gekelder toe Wallis die Hane in die kwarteindstryd met 20-19 geklop het.

Dit was ʼn wedstryd wat die Franse nooit moes verloor het nie, want hulle het die Walliesers in die eerste helfte van hul voete afgespeel en met 19-10 voorgeloop.

Wanneer ʼn Franse span die dag in die regte luim opdaag, is daar bitter min spanne wat hulle sal keer, maar toe steek die ou-ou kwaal van ʼn gebrek aan dissipline net ná rustyd weer sy kop uit.

Die vurige slot Sebastien Vahaamahina (hul primêre bron van lynstaanbesit) het die Walliese flank Aaron Wainwright met sy elmboog tydens ʼn rolmaalbeweging in die gesig geslaan. Die skeidsregter, Jaco Peyer, en die televisieskeidsregter, Marius Jonker, het geen ander keuse gehad as om Vahaamamina met ʼn rooikaart te straf nie.

Soos hulle in tennis sê: pot, stel en wedstryd.

Draai maar die horlosie terug na 2011 toe die Franse Wallis met 9-8 in die halfeindronde geklop het. Toe is die Walliese kaptein Sam Warburton, met ʼn rooikaart kleedkamer toe gestuur.

Pot, stel en wedstryd.

Wallis se Alun Wyn Jones vang die bal (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Aaron Favila)

Dit was ook slegs die derde keer dat Wallis tot die WB-halfeindronde kon deurdring (ook in 1987 en in 2007) en ook slegs die derde keer dat Frankryk nie in die halfeindronde speel nie (die ander kere was in 1991 en in 2015).

Op die ou einde het Wallis deurgeskraap om die wendrie diep in die tweede helfte te druk, maar die Franse se passie, flair en sjampanjerugby was met die afstuur van Fahaamahina daarmee heen.

Die groot vraag is of Wêreldrugby se base nie ʼn ander plan moet uitdink om ʼn belangrike wedstryd nie van sy noodsaaklike elemente te ontneem nie.

Vahaamahina was skuldig, hy moet gestraf word, maar sal dit nie beter gewees het as hy (soos met ʼn geelkaart) vir tien minute afgestuur word en dan met ʼn ander speler vervang word nie.

Skors die sondaar later, maar om ʼn hele span daaronder te laat ly as hy ʼn fout in ʼn oomblik van waansin begaan is, maak mos nie sin nie.

Aan die ander kant, spelers behoort te weet dat hul dissipline vir 80 minute moet hou, dat hulle met die magdom kameras, skeidsregter, twee assistent-skeidsregters en ʼn TV-skeidsregter, dom is om die wet in eie hande te neem. Kan Wallis voortgaan en ook in die halfeindronde seëvier?

Die voorspelers het tam voorgekom, die agterlyn het nie baie deurdringingsvermoë gehad nie. Maar hulle gaan nooit lê nie, hulle hou aanhou veg, gebreke en al.

* Punte: Wallis 20 (10): Drieë: Aaron Wainwright, Ross Moriarty. Doelskoppe: Dan Biggar (2). Strafdoele: Biggar (2).

Frankryk 19 (19): Drieë: Sebastien Vahaamahinan, Charles Ollivon, Virimi Vakatawa.  Doelskoppe: Romain Ntamack (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jack Russl ·

Dis nie die ref se werk om die 15 teen 15 te hou nie. Sy werk is om die reels toe te pas.

As jy n ander speler in die gesig wil slaan met die elmboog, moet jy jou pak kan vat

Speel 12 teen 15, maar straf die ouens wat in n Brakpan bar hoort ipv op n rugbyveld

Chrisjan ·

Van rooikaarte gepraat, Beast was dem gelukkig om nie ‘n rooikaart te kry nie!

Swartwolf ·

Stem. Daai kom van die franse gepeupel wat die rewolusie begin het. Frankryk ongelukkig hul eie skippie gesink.

SjN ·

Sebastien het sy land die game gekos, hy behoort sleg te voel.

Karlahari ·

Laat my dimk aan een Franse sokker speler in n vorige wêreld beker.
Kon darem vandag weer die verskil sien tussen sokker se tv oscar spelers en harde rugby….
Ek glo rugby het nes geskop in Japan.

Therese ·

Nog nooit só jammer gevoel vir die verloorspan nie!
Ai, Frankryk, julle het ‘n droomwedstryd gespeel tot met daai onnodige vuilspel.
Die drie van Wallis het met die ‘kyk-weer’ vorentoe gelyk, en baie ander skeidsregters sou dit ook só beslis het. Peyper het egter anders besluit, sy goeie reg, en die einde van die opwindende Hane. Wreed.

Nico K ·

Ek kry nie vir Frankryk jammer nie, want ek voel hulle moes nooit in die kwarteindrond gewees het nie. Het 2 wedstryde net-net met 2 punte gewen. Was gelukkig in die uitdunrondes, en iewers moet die geluk darem ook teen hulle draai.

Therese ·

Nico, dit mag so wees, maar dis ook goed om jou beste later in ‘n toernooi te lewer.
Hoe later, hoe kwater. Frankryk was skitterend, nie net vir my nie, maar ook vir Gatland die Walliese afrigter. Hy het gesê “the better team lost”. Kan amper nie glo dat daar nog sulke eerlikheid bestaan nie.
In elk geval, die Bokke behoort Wallis op te frommel.

DI ·

Dit sou ons voorland ook gewees het, as die Ref nie so vir SA geblaas het nie. Duidelike rooi van beast, geel vir speler in lug speel en nog n moontlike 3de een.

Kapelaan ·

Dan neem ek aan die Japan vleuel moes ook ‘n geel kaart kry vir sy speel-in-lug van Mapimpi? En wat van die Japan speler wat Kolbe se skrumpet trek dat hy agteroor gerek word en sy nek ook kon beseer? Geel kaart of nie?

En die onkant van twee Japan spelers in 37ste minuut wat al die beamptes mis? De Allende se “drie” wat nie toegeken was nie?

Is dit die tekens van ‘n skeidsregter wat vir SA geblaas het? Nee ek dink regtig nie so nie.

JohanL ·

Elkeen het sy opinie oor die nagevolge van ‘n rooi kaart itv die span.

My eie is dat die speler wat die rooi kaart gekry het, permanent af bly maar die span net vir 10 minute gestraf word en daarna ‘n ander man mag opbring.

Met rugby se letterlik honderde reels en ek ken meeste nie, is my vraag: “Wat sou gebeur het as Beast ‘n rooi kaart gekry het. Sou ons nie-kompiterende skrums vir res van die wedstryd gesien het, of sou Beast as stut vervang word met ‘n ander stut en ‘n totaal onskuldige ander speler van die Bok span sou moes afgaan vir die res van die wedstryd?”

Hopelik plaas my vraag dan my opinie ook in perspektief.

Scalla ·

Ons betaal duur om te gaan kyk en wil krag teen krag sien, indien n speler n kaart kry, vervang hom onmiddelik en gee aan die ander span bonus punte as straf. Wat se die slim mense?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.