Franse hou asem op oor Dupont

Antoine Dupont ontvang mediese behandeling op die veld. (Foto: Christophe Simon/AFP)

Die Franse rugbyspan het ongetwyfeld hul mojo terug, maar kaptein Antoine Dupont se besering het ʼn demper op hul wegholoorwinning van 96–0 teen Namibië in Marseille geplaas.

Die 26-jarige skrumskakel is nie net die Hane se invloedryke kaptein nie, maar ook heel waarskynlik hul beste speler.

Dupont moes egter in die 46ste minuut van die Marseille-wedstryd die veld in trane verlaat nadat hy koppe met Johan Deysel gestamp het.

Die Namibiër is aanvanklik met ʼn geel kaart van die veld gestuur vir sy gevaarlike duikslag, maar die bunker-beampte het dit ʼn kort rukkie later met ʼn rooi kaart vervang.

Daarteenoor is Dupont na ʼn hospitaal gehaas om die omvang van sy besering te bepaal.

Volgens die Franse media het die voormalige Wêreldrugbyspeler van die jaar ʼn fraktuur aan sy sigomatiese been (wangbeenboog) opgedoen; ʼn besering wat ʼn speler vir tot ses weke langs die kantlyn kan hou.

Die land se rugbybase het gespesialiseerde chirurgiese raad gevra en daar word gehoop dat die herstelproses na vier weke verkort kan word, na gelang van die erns van die besering.

RugbyPass berig dat die volgende 48 uur van sleutelbelang vir Dupont is.

Dit is ook nie vergesog dat die sterspeler moontlik met gesigbeskerming kan speel nie; alles in ʼn poging om hom so gou moontlik weer op die speelveld te kry.

Indien sy herstelproses na vier weke verkort word, sal hy weer die Franse kapteinskapleisels in ʼn moontlike halfeindstrydwedstryd vashou. Maar soos wat sake tans staan, lyk dit onwaarskynlik dat hy deel van die gasheerland se kwarteindstrydplanne gaan wees.

Frankryk sal teen Ierland of Suid-Afrika in die kwarteindstryd van die toernooi speel.

Volgens Cyril Baille laat Dupont se ontydige besering ʼn donker wolk oor Frankryk se blink vertoning teen Namibië hang.

“Ons is maar net te bewus van die waarde wat hy tot die span toevoeg. Ons is natuurlik baie tevrede met die uitslag, maar daar was beslis nie ʼn partytjie in die kleedkamer ná die wedstryd nie,” het die stut gesê.

Intussen moes Fabian Galthié bontstaan om die media se vrae te beantwoord: Waarom is Dupont nie direk ná rustyd vervang nie?

“Wat wil julle hê moet ek sê?” het die Franse rugbyafrigter geskerm.

“Jy kan nie 14 spelers eensklaps vervang nie. Ons plan was om ʼn paar voorspeler-veranderinge in rustyd te maak en dan die ander spelers teen die 55ste minuut te vervang. Ons wou almal genoeg speelkans gee; die spelers was ook oorgehaal om op die veld te wees.”

Frankryk se volgende wedstryd is op 6 Oktober teen Italië in Lyon, terwyl hulle op 15 Oktober in kwarteindstrydaksie op die Stade de France is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.