Franse sal Dupont nie in blik druk oor terugkeer

Frankryk se Antoine Dupont. (Foto: Franck Fife/AFP)

Daar was hierdie week net een storie in Franse rugby nadat die gelukbringer-kaptein Antoine Dupont sy wangbeen in ʼn Wêreldbeker-oorwinning oor Namibië gebreek het.

Die Parys-modeweek kon begin het, die pous het Marseille dalk besoek, Franse president Emmanuel Macron kon dalk outonomie aan die Mediterreense eiland Corsica beloof het … maar in kroeë en kafees landwyd het een kwessie alle gesprekke oorheers: Dupont se besering.

Skrumskakel Dupont sal na verwagting betyds terugkeer vir ʼn moontlike kwarteindstryd op die naweek van 14 Oktober, maar hy sal vir volgende Vrydag se wedstryd teen Italië in Lyon op die kantlyn moet wag.

Die tekens is egter positief en die aanduidings vir ʼn spoedige terugkeer goed nadat die Toulouse-speler ʼn paar dae tuis herstel het ná verlede week se operasie.

Toernooi-gasheer Les Bleus het nie vandeesweek ʼn wedstryd gespeel nie en het die week aan die Mediterreense kus deurgebring waar hulle oefen. Hulle sal die 26-jarige ster na verwagting Sondag terug verwelkom nadat die hele span ʼn rusnaweek gekry het.

“Dit is goeie nuus. Ons sal wag dat hy terugkeer en met hom gesels oor hoe dit gaan,” het spanmaat Francois Cros aan die spesialis-rugbykoerant Midi Olympique gesê.

“Maar jy moet optimisties bly.

“Dit is net hy wat kan sê hoe hy voel en of hy in staat is om te speel,” sê Cros.

Maxime Lucu of Baptiste Couilloud ding mee om Dupont se nommer 9-trui en daar is ʼn ellelange lys van kandidate wat die kapteinleisels kan oorneem. Charles Ollivon en Dupont se hoërskoolmaat Anthony Jelonch het die span al vantevore tydens Fabien Galthie se termyn gelei. Gael Fickou, Cros en haker Julien Marchand (selfs al het hy ʼn dyspierbesering) kan ook as skipper teen die Azzurri diens doen.

“Die baas gaan nie teen Italië teenwoordig wees nie, maar wat ook al gebeur, die luitenante sal daar wees,” het die voormalige Franse heelagter Xavier Garbajosa aan Midi Olympique gesê.

“Hierdie ouens skitter. Dit is hoekom Frankryk altyd kalm, vol vertroue en buite gevaar lyk.”

Frankryk is een van die gunstelinge om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.

Hulle sal meer as twee weke tussen die wedstryd teen Namibië en die wedstryd teen Italië in hul laaste groepwedstryd hê.

“Ons is nie verlore nie en ons wag ook nie vir dinge om te gebeur nie,” het Cros oor die blaaskans gesê.

“Ons weet waarheen ons op pad is. En ons weet van nou af gaan die dinge vinnig gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.