Gaan die Britse en Ierse Leeus teen die Maori brul?

Wanneer die Britse en Ierse Leeus Saterdag in Rotorua teen die Nieu-Seeland Maori speel, bevat dit al die bestanddele om die kookpot te laat oorborrel.

Dit laat ʼn mens terugdink aan die Bokke se toere na Nieu-Seeland, waar die wedstryde teen die Maori om die een of ander rede altyd die hoofopskrifte gehaal het.

Politiek, toere wat in die slag gebly het, toere wat kwaai ontwrig is, skitterrugby en ʼn omstrede skepdoel wat die Bokke gelykop laat speel het.

Die Bokke het die eerste keer in 1921 na Nieu-Seeland getoer en die Maori met 9-8 geklop. Volgens nzhistory.gov.nz was daar ongelukkigheid in die Bokkamp toe ʼn Suid-Afrikaanse joernalis op toer per kabelgram laat weet het daar is ongelukkigheid in die Bokkamp omdat duisende wit toeskouers die Maori ondersteun het.

Terloops, die werknemer wat die kabelgram laat uitlek het aan The New Zealand Truth wat dit toe gepubliseer het, is afgedank.

Oor-en-weer beskuldigings het daartoe gelei dat die Bokke geweier het om in 1937 teen die Maori te speel.

In 1956 is bande hervat en die Bokke het met 37-0 gewen, wat hul beste vertoning op toer was.

Die losskakel Peewee Howe (hy was een van drie losskakels in die toerspan) is op grond van sy vertoning vir die beslissende vierde toets gekies. Howe was skitterend op die aanval en wou glo met elke bal hardloop (dit was Dok Danie Craven se meesterplan om die All Blacks te klop).

Maar die All Blacks het strikke vir hom gestel en het op Edenpark in Auckland die toets met 11-5 gewen.

Jare daarna het die Maori-heelagter, Muru Walters, beweer dat Ernest Corbett, die destydse Nieu-Seelandse minister belas met Maori-aangeleenthede, die spelers in die kleedkamer opdrag gegee het op opsetlik te verloor om toekomstige toere na Suid-Afrika te red.

Die Bokke het die Maori (sonder enige voorval) in 1965 met 9-3 geklop en in 1981 is die louere met 12-elk gedeel toe die Boksenter Colin Beck ʼn skepdoel in die doodsnikke oorgeklits het. Of was dit mis?

Daar was groot verwarring toe die Maori-spelers die bal van die 22-meter wou inskop, maar die skeidsregter, Bryan Duffy, het middelkolletjie toe gedraf het.

Dis hoekom ons Saterdag weer voor die TV-stel gaan inskuif; dis hoekom toere die belangstelling só prikkel, en dis hoekom kragmetings met die Maori ʼn skeutjie ekstra geur gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.