Geduld is die wagwoord vir Blitsbokke

Justin Geduld. (Foto: Action Foto Sport/NurPhoto)

Die Blitsbok-bestuur sal hoop dat die terugkeer van sterre soos Justin Geduld, Dewald Human en Ronald Brown vir die span ʼn broodnodige adrenalieninspuiting in Toulouse sal gee.

Die Suid-Afrikaners beklee tans die sewende plek op die HSBC-punteleer ná teleurstellende vertonings in Los Angeles, Vancouver en Singapoer.

“Hulle is uitstekende spelskeppers; nie net as ʼn mens na hul vermoëns op die rugbyveld kyk nie, maar ook na die waarde wat hulle tot die span toevoeg,” het Sandile Ngcobo gesê.

Die ervare Geduld, wat die Blitsbokke reeds in 52 toernooie verteenwoordig het, het laas in die begin van 2022 vir die nasionale sewesspan uitgedraf. Sedertdien het ʼn knie- en heupbesering hom op die kantlyn gehou.

“My hoofprioriteit was om terug op die speelveld te kom en my land te verteenwoordig. Ek is beslis gereed daarvoor,” het Geduld gesê.

Volgens die 29-jarige speler beteken die skeppende vaardighede van Brown en Human dat daar nie soveel druk op hom sal wees nie.

“Daar sal nie veel druk op ʼn spesifieke speler wees nie omdat ons almal ʼn spesifieke rol kan vertolk en mekaar ondersteun. Ek het baie vertroue in my spanmaats se vermoëns en ek weet dat ons baie goed vir die toernooi voorberei het.”

Die Blitsbokke speel hul groepwedstryde teen Frankryk, Fidji en die VSA.

  • Bepalings:

Vrydag:

14:35: Blitsbokke teen Frankryk

21:03: Blitsbokke teen Fidji

Saterdag:

13:49: Blitsbokke teen VSA

  • Blitsbok-groep: Ryan Oosthuizen, Impi Visser, James Murphy, Ronald Brown, Dewald Human, Shakes Soyizwapi, Mfundo Ndhlovu, Christie Grobbelaar, Shaun Williams, Shilton van Wyk, Justin Geduld, Travis Ismaiel en Ricardo Duarttee.
  • HSBC-sewespunteleer:
  1. Nieu-Seeland: 164 punte
  2. Argentinië: 140 punte
  3. Fidji: 130 punte
  4. Frankryk: 122 punte
  5. Australië: 112 punte
  6. Samoa: 111 punte
  7. Suid-Afrika: 106 punte
  8. VSA: 94 punte
  9. Ierland: 92 punte
  10. Groot-Brittanje: 84 punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.