Gee ons meer wedstryde, vra topvrouespeler

Libbie Janse van Rensburg het twee toekennings by SA Rugby se prysuitdelingfunskie opgeraap. (Foto: X/Springbok-vroue)

Libbie Janse van Rensburg se uithalerspel is die afgelope Donderdagaand deur SA Rugby by sy amptelike toekenningsgeleentheid in Johannesburg beloon.

Die 29-jarige losskakel van Pretoria is nie net die beste vrouerugbyspeler in Suid-Afrika nie, maar sy is ook die beste provinsiale speler in die land.

“Sjoe, daar was soveel oomblikke in my loopbaan waar ek gedink het dat my planne nie gaan uitwerk nie. En kyk nou net hier – die toekennings wys dat harde werk beslis die antwoord is,” het sy aan joernaliste gesê terwyl sy met haar trofees spog.

Janse van Rensburg het sommer in dieselfde jaar vir die nasionale rugbyspan en die sewesrugbygroep uitgedraf en sy vertel dat die blitsformaat haar gunstelingweergawe van die spel is.

“Toe sewesrugby aan my deur geklop het, het ek nie twee keer gedink om te speel nie. Ja, ek het ʼn besering in Dubai opgedoen, maar dit is my trots om my land te verteenwoordig.”

Suid-Afrika se vrouesewesspan het juis ʼn paar goeie vertonings in die jongste weergawe van die HSBC-reeks gelewer.

Die span het onder meer met Spanje en Groot-Brittanje en Perth afgereken, terwyl hulle vir die bekerkwarteindstryd in Los Angeles gekwalifiseer het.

Nou vra Janse van Rensburg vir meer wedstryde – in al twee weergawes van die spel.

“Vrouerugby in Suid-Afrika kan met ʼn sneeubal vergelyk word: Hoe meer ons speel, hoe meer momentum kan ons opbou. Ons sal nooit by die beste spanne op die internasionale verhoog kan kers vashou as ons nie meer speeltyd kry nie. Ons moet doodeenvoudig teen die beste speel as ons die beste in die wêreld wil word.”

“Ek sal daarvan hou as rugbyliefhebbers ook bankvas agter ons vrouespanne staan. Ek dink nie baie mense is bewus van die harde werk wat ons agter die skerms insit nie. Maar die toekoms lyk beslis meer rooskleurig.”

Sy het natuurlik ʼn boodskap vir jong spelers wat daarvan droom om vir die vrouerugbyspan uit te draf.

“Glo in jouself en moenie moed verloor nie. Baie mense het my gevra wanneer ek nou eendag gaan ophou rugby speel en ʼn ‘regte’ werk kry. Maar met ʼn tikkie vasberadenheid en baie harde werk is enigiets moontlik.”

Libbie Janse van Rensburg. (Foto: X/Springbok-vroue)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.