Goosen word amptelik ’n Bul

Johan Goosen. Foto: Pascal Guyot/AFP.

Die Blou Bulle het vanoggend bevestig wat baie rugbyliefhebbers reeds weet: Johan Goosen is op pad na Loftus Versfeld.

Die 28-jarige losskakel is ewe tuis op senter en heelagter en hierdie veelsydigheid – saam met ’n monsterskopvoet – het gesorg dat hy vir die junior en senior Springbokke uitgedraf het.

Die oudleerling van Grey Kollege in Bloemfontein het vir Racing Metro en Montpellier in Frankryk gespeel en sal op 1 Julie sy verskyning in Pretoria maak.

Hy het Suid-Afrika in 13 toetse verteenwoordig waarin hy 25 punte aangeteken het en Jake White (afrigter) is in sy noppies met die Pretoria-span se nuutste aanwins.

“Ons is opgewonde oor Johan se koms en ons sien uit na sy bydrae tot die span se sukses. Hy is die bestendigheid vanself en sy ervaring is goeie nuus vir ons jong spelers, terwyl hy ook vir ’n bykomende opsie op die aanval sorg,” het White gesê.

Op sy beurt sien Goosen uit na sy tyd by die Bulle.

“Daar wag ’n opwindende toekoms op rugby in Pretoria en ek is dankbaar om deel te wees daarvan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.