Kan verlede jaar se rillereindstryd in Griekwas se Superliga hom herhaal?
Dieselfde twee spanne spook oor drie weke weer die liga uit en rugbygeesdriftiges in die bond lek hul lippe vir die kragmeting af.
In die halfeindronde Saterdag het die kampioen, Sishen, op sy tuisveld vir Young Tigers van Calvinia 58-22 (rustyd 31-10) oorrompel; maar verlede jaar se naaswenner, Kimberley (toe nog Kimberley Polisie) moes kwaai spook om Upington-Dorp 26-19 in `n wegwedstryd baas te raak (rustyd 13-6).
Sishen het tien drieë teen drie gedruk, Kimberley en Upington twee elk.
Verlede jaar het Kimberley drie minute voor die einde van die finaal 12-11 voorgeloop. Toe voer Sishen die spel deur meer as tien fases om die wendrie (16-12) te druk.
Die span uit die Kalahari is reeds as die bond se 2015-kampioen in die internasionale reeks om die Goue Beker ingesluit.
Sou die Diamantvelders vanjaar wen, het hulle (afhangende van wat in die ander bonde gebeur) `n buitekans om aan Augustus se uitspeelwedstryde vir die oorblywende twee plekke in die reeks deel te neem.
Provinsiale kampioene vanjaar wat nie verlede jaar ook titelhouers was nie, kom kragtens `n bepaalde formule vir die uitspeelronde in aanmerking.
(Klubbesture landwyd word genooi om bondige wedstrydverslae Maandae voor 11:00 vir publikasie aan Pale Toe! by [email protected] te stuur.)
Is daar êrens ‘n webblad waar ‘n mens die uitslae en puntelyste van die verskillende streeksligas in Griekwaland-Wes kan volg?
As die streke dit gee, sal Pale Toe! dit plaas. Dusver is dit net Pixley ka Seme wat op die uitnodiging om dit te stuur gereageer het.