Groot oorwinning gee Iere rede om te glo

Ierse rugbyondersteuners het beslis rede om te glimlag nadat hul span vir Frankryk oortuigend geklop het. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Ierland se rugbyselfvertrouebeker is tans tot oorlopens toe vol nadat hy vir Frankryk met 38 – 17 op die Stade Velodrome in Marseille oorrompel het.

Andy Farrell se spelers het vyf drieë teenoor die twee van die tuisspan gedruk en hulle het ook minder hanteerfoute (nege teen 14) gemaak, terwyl hulle ook gereeld omgekeerde balbesit bewerkstelling het.

Ierland se oorheersing het ook ʼn hupstoot in die eerste helfte gekry toe Frankryk se Suid-Afrikaans gebore slot, Paul Willemse, met ʼn rooi kaart van die veld gestuur is.

Munster se Tadhg Beirne het tot Ierland se driedrukpartytjie bygedra en hy kon kwalik sy oë glo toe hy die eindtelling sien.

“Om Frankryk met só ʼn telling te klop is baie onverwags. Jy staal jouself vooraf vir ʼn taai wedstryd; dalk het die rooi kaart dinge vir ons makliker gemaak, wie weet?

Volgens die slot het Ierse rugbyspelers ʼn onwrikbare geloof in hul vermoëns op die speelveld.

“Tog het ons ook geweet dat ons glad nie vir Frankryk hoef terug te staan nie – veral as ʼn mens na ons vaardighede en ons benadering tot die spel kyk. Dit is ʼn groot voorreg om saam met die groep te speel; ons is mal oor wat ons doen.”

Galthié meen daar is nog petrol in Frankryk se rugbytenk

Ondanks die nederlaag – dit is die grootste sedert hy in 2019 Frankryk se afrigtersleisels vasgevat het – meen Fabien Galthié dat die Hane nie hul kraai kwyt is nie.

“Om die openingswedstryd van die Sesnasies te verloor is nooit iets positief nie en ons sal daarmee moet saamleef. Ja, dit is moeilik, maar die toernooi staan nie stil nie. Daar wag nog vier wedstryde op ons en Skotland is volgende,” het Frankryk se hoofafrigter gesê.

Hy het wel oor Frankryk se gesukkel op die aanval gekla.

“Ons kan almal saamstem dat ons nie op ons beste was nie – ons het balbesit weggegee, ons was stadig en ons hantering was vrot. Ons het vooraf vir mekaar gesê om die spel vinnig te maak, maar om met 14 spelers teen Ierland te speel het ook nie veel gehelp nie.”

  • Puntemakers:

Ierland: Drieë: Jamison Gibson-Park, Tadhg Beirne, Calvin Nash, Dan Sheehan en Ronan Kelleher. Doelskoppe: Jack Crowley (5). Strafskop: Crowley.

Frankryk: Drieë: Damian Penaud en Paul Gabrillagues.  Doelskoppe: Thomas Ramos (2). Strafskop: Ramos.

  • Vandag se ander bepalings:

16:15: Italië teen Engeland

18:45: Wallis teen Skotland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.