Haaie vertoon sterk in hul tenk

Foto: Haaie se amptelike Twitter-rekening.

Daar was vandag drama in die Curriebeker-kragmeting tussen die Haaie en die Blou Bulle toe die Pretorianers se ster-losskakel, Morné Steyn, vir sy skopkelkie gevra het nadat die sirene reeds geloei het.

Die Haaie het toe met net drie punte voorgeloop, maar die besoekers het pas ’n skrumstrafskop afgedwing en soos wat baie rugbyliefhebbers al oor die jare besef het: Steyn mis nie sommer ’n stelskop nie.

Maar soms loop selfs die beste generaal se uitvoering nie heeltemal volgens plan nie en die 36-jarige losskakel se skop het verby die pale geseil.

Die uiteinde: Die Haaie wen ’n baie vermaaklike tweestryd met 32-29!

Die oorwinning moet veral soet in Durban smaak nadat die Pretorianers hulle in die twee spanne se vorige ontmoetings op Loftus Versfeld verrinneweer het.

Vandag het die Haaie se Curwin Bosch egter weer gespeel soos wat hy destyds in sy Cravenweekdae vir die Oostelike Provinsie op HTS Middelburg se rugbyveld vertoon het.

Ja, flair-gewys was dit dalk nie in dieselfde klas as wat hy in 2014 op die Hoëveld uitgestal het nie, maar sy skopwerk was bestendig, terwyl sy briljante dwarsskoppie Yaw Penxe laat in die tweede helfte vir ’n baie belangrike drie weggestuur het.

Dan het die tuisspan vuur met vuur – veral in die skrums – beveg, terwyl hulle ook by die Bulle gebly het toe die besoekers oudergewoonte in die tweede helfte na ’n hoër rat oorgeskakel het.

Daarteenoor kan die Pretorianers ook tevrede voel met hul spel in die aksiebelaaide stryd.

Marco van Staden en Cornal Hendricks het twee goeie drieë gedruk, terwyl Steyn weer eens gewys het dat gehalte en styl permanent is en ’n verbroude strafskop net tydelik.

En ná gisteraand se geploeter tussen die WP en die Pumas op Nuweland het rugbyliefhebbers weer iets gehad om oor te glimlag.

Puntemakers:

Haaie: Drieë: Lukhanyo Am, Kerron van Vuuren en Yaw Penxe. Doelskop: Curwin Bosch. Strafskoppe: Bosch (5).

Blou Bulle: Drieë: Marco van Staden en Cornal Hendricks. Doelskoppe: Morné Steyn (2). Strafskoppe: Steyn (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet ·

Ek sien daar word darem uitspeelwedstryde aan die einde van hierdie kompetisie gespeel

Jakes ·

Dit was n beter wedstryd vir die Sharks. Morne se swak skopwerk het eintlik die Bulle gekos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.