In ʼn haas ongehoorde stap word een van die wedstryde in die halfeindronde van die Oos-Kaapse Super 12-reeks Donderdag oorgespeel nadat een van die partye hom tot die hof gewend het.
Nog ʼn interessante voortspruitende stap is die tersydestelling van rooi kaarte.
Onderlinge geskille en ʼn vroeëre hofbevel op versoek van Gardens het daartoe gelei dat die Super 12-halfeindronde twee keer uitgestel is, en toe dit uiteindelik plaasvind, het Gardens, die verdedigende kampioen, vir Progress (albei van Uitenhage) in ʼn klipharde stryd met 21-20 geklop.
Die eindstryd tussen Gardens en Oos-Londen Polisie, Grens se kampioen, sou die afgelope Saterdag plaasvind, maar dié keer het Progress hom tot die hof gewend om dit te stuit.
Die hof het beslis die partye moet die dispuut kragtens die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) se grondwet en die natuurreg uitpluis.
Woensdagaand laat is bekend gemaak dat die halfeindstryd 20:00 Donderdag op Uitenhage se Sentrale Sportveld oorgespeel sal word, kragtens ʼn onherroeplike ooreenkoms tussen die klubs Gardens en Progress, die Super 12-reëlingskomitee van die Oos-Kaapse departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur (DSOKK), en die betrokke tugkomitee.
Die ooreenkoms voorsien ook dat “alle rooikaartspelers wat geskors is in aanmerking sal kom om te speel”.
Die partye het afstand gedoen van die reg om die geskil langs enige ander weg te besleg.