Hane moet ‘leer’ om sonder Dupont te speel

Antoine Dupont oefen saam met die Franse sewesgroep. (Foto: Franck Fife/AFP)

Frankryk speel Vrydagaand in sy openingswedstryd van die Sesnasies en hulle sal die toernooi sonder die dienste van Antoine Dupont moet aanpak.

Die Hane se Wêreldbeker-kaptein en skrumskakel het besluit om vir eers sy vyftienmanloopbaan opsy te skuif om op die Olimpiese Spele saam met die Fransmanne se sewesspan te fokus.

Afrigter Fabien Galthié het egter gedurende ʼn mediasessie gesê dat Frankryk vinnig ʼn brug moet bou oor die leemte wat Dupont gelaat het.

“Dit is ʼn geleentheid vir ander spelers om te wys wat hulle in die nommernegetrui kan doen. Iemand soos Maxime Lucu is al vir ʼn geruime tyd deel van die opset en stel bitter selde teleur.”

Die 31-jarige Bordeaux-speler is juis Matthieu Jalibert se skakelmaat vir die Ierland-kragmeting.

“Die bal is in sy hande. Hy moet nou sy stempel op die wedstryd afdruk en vir ons wys wat hy kan doen. Terselfdertyd kan iemand soos Nolann le Garrec ook Antoine se skoene volstaan. Dit is altyd goed wanneer spelers om ʼn posisie meeding.”

Agtsteman Gregory Alldritt sal Frankryk op die span aanvoer, terwyl Thomas Ramos en Lucu ook onder die leierskapgroep tel.

“Hulle sal doodeenvoudig moet leer om sonder Antoine te speel. Dit sal interessant wees om hierdie Franse span in aksie te sien.”

In dieselfde asem sal Ierland ook sonder Johnny Sexton moet speel. Die ervare losskakel het ná die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk sy uittrede aangekondig.

Jack Crowley sal nou op losskakel vir die Iere uitdraf.

Die 24-jarige speler het al in die Verenigde Rugbykampioenskap gewys dat hy ʼn speler vir die groot oomblik is toe sy suksesvolle skepskoppoging in die kleure van Munster vir Leinster in sy spore gestuit het.

Frankryk: Thomas Ramos (heelagter), Damian Penaud (regtervleuel), Gael Fickou (buitesenter), Jonathan Danty (binnesenter), Yoram Moefana (linkervleuel), Matthieu Jalibert (losskakel), Maxime Lucu (skrumskakel), Gregory Alldritt (agtsteman), Charles Ollivon (flank), Francois Cros (flank), Paul Willemse (slot), Paul Gabrillagues (slot), Uini Atonio (stut), Peato Mauvaka (haker) en Cyril Baille (stut). Plaasvervangers: Julien Marchand, Reda Wardi, Dorian Aldegheri, Cameron Woki, Romain Taufifenua, Paul Boudehent, Nolann le Garrec en Louis Bielle-Biarrey.

Ierland: Hugo Keenan (heelagter), Calvin Nash (regtervleuel), Robbie Henshaw (buitesenter), Bundee Aki (binnesenter), James Lowe (linkervleuel), Jack Crowley (losskakel), Jamison Gibson-Park (skrumskakel), Caelan Doris (agtsteman), Josh van der Flier (flank), Peter O’Mahoney (flank), Tadhg Beirne (slot), Joe McCarthy (slot), Tadhg Furlong (stut), Dan Sheehan (haker) en Andrew Porter (stut). Plaasvervangers: Ronan Kelleher, Cian Healy, Finlay Bealham, James Ryan, Ryan Baird, Jack Conan, Conor Murray en Ciaran Frawley.

Afskoptyd: Vrydag om 22:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.