Die loesing van 5-101 wat Newcastle Highlanders Saterdag in die kwarteindronde van die KwaZulu-Natalse uitklopreeks om die Murraybeker teen Vryheid op die lyf geloop het, is eintlik `n getuigskrif vir die span se fut.
André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê 23 van die eerstespanspelers was beseer en die 16 spelers wat bereid was om Vryheid aan te durf, verdien krediet vir die moed wat hulle aan die dag gelê het.
“Ons kon eenvoudig nie met uitklopliga voortgaan nie, maar was verplig om te speel.
“Dus, met flanke op senter en `n vleuel en voorrymanne op slot en flank, en van die ander spelers wat ook uit posisie gespeel het, kan `n mens seker verstaan waarom die telling so hoog was.”
Swanepoel sê Newcastle se derde en o.20-span was boonop ook Saterdag in aksie, en dit wil gedoen wees met soveel beserings net in die eerste span.
Die klub se seisoen is nou verby en benewens spelers wat operasies sal ondergaan, sal daar sterk op `n herstelprogram met die oog op 2017 gefokus word.
Ander uitslae –
Murraybeker
Durban Collegians 23, College Rovers 21; UKZN Impi 22, Jaguars 15; Amanzimtoti 31, Crusaders 17; Varsity College 25, South Coast Warriors 18.
Junior Murraybeker
Zululand Rhinos 54, Richardsbaai 22; Westville Old Boys 43, Ballito Dolphins 12; Sentraal (Dundee) het bes teen Hillcrest Villagers gegee.