Hongkong-sewes: Streepsuiker vir Blitsbokke

(Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Daar is ʼn uitdrukking wat lui om nie die beer se vel te verkoop voordat jy hom geskiet het nie.

Dit het Blitsbokke Sondag in Hongkong in Wêreldrugby se sewestoernooi terdeë besef toe hulle met 7-5 deur Argentinië in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek geklop is.

Die Argentyne het met twee minute se speeltyd oor ʼn drie gedruik wat verdoel is om met 7-0 voor te loop.

Met slegs ʼn minuut se speeltyd oor het Ricardo Duarttee vir ʼn drie oorgeduik om die Blitsbokke se hoop te laat opvlam.

Hy het opgevlieg, na die doodlyn gehardloop en sy oënskynlike opgekropte emosies aan die toeskouers uitgeskree.

Maar hy moes nog die doelskop waarneem om die Blitsbokke gelyk te laat trek … waarmee hy misluk het.

Die Argentyne het met afskop die bal met die kop uitgestamp wat die toeskouers laat jil het van plesier, want speeltyd was verstreke.

Dit was maar weer ʼn middelmatige toernooi vir die Blitsbokke, een wat deur beserings gery is.

Hulle het oorwinnings oor Ierland, Kenia en Amerika behaal, maar is deur Nieu-Seeland, Fidji en Argentinië geklop. Hulle bly dus in ʼn wedloop om tussen die boonste vier spanne op die puntelys te eindig om sodoende outomaties vir die Olimpiese Spele in 2014 in Frankryk te kwalifiseer.

Puntemakers: Argentinië 7 (0): Drie: Joaquin Pellandini. Doelskop: Pellandini. Suid-Afrika 5 (0): Drie: Ricardo Duarttee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.