Iere laat Blitsbokke lelik struikel

Argieffoto van die Blitsbokke. (Foto: X/Blitsbokke)

Diegene wat Saterdagaand net ná 23:00 voor die kassie ingeskuif het om die Blitsbokke se kragmeting teen Ierland in Vancouver te kyk, moes teleurgesteld gaan slaap het.

Die Iere het die twee spanne se laaste groepwedstryd met 22 – 10 beklink om die Suid-Afrikaners uit die bekerwedloop te boender.

Veral Zac Ward het die Blitsbok-verdediging hoofbrekens besorg en hulle moes bontstaan wanneer hy met een van sy kraglopies wegtrek.

Hy het die eerste drie van die kragmeting gedruk, en hoewel Suid-Afrika ʼn kort rukkie later danksy David Brits teruggeslaan het, het die Iere hopeloos te veel skietgoed gehad.

Hulle het met flair en passie gespeel en die Blitsbokke was amper magteloos om dié groen golf te stuit.

Ward het sy tweede drie van die wedstryd gedruk, terwyl Hugo Lennox en Gavin Mullin ook tot die driedrukfees bygedra het.

Die Blitsbokke het benoude spronge begin maak in ʼn poging om die vlieënde Iere in te haal: Die bal is met tye doelloos rondgeslinger, terwyl daar net geen deurkomkans was nie.

Toe Rosko Specman wel daarin kon slaag om die Suid-Afrikaners se tweede drie te druk, was dit reeds hopeloos te laat.

Suid-Afrika kon later vir Kanada met 20 – 14 klop, maar vir die Blitsbokke sal dit ʼn teleurstellende seweskuipstop in Vancouver wees.

  • Puntemakers:

Ierland: Drieë: Zac Ward (2), Hugo Lennox en Gavin Mullin. Doelskop: Billy Dardis.

Suid-Afrika: Drieë: David Brits en Rosko Specman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.