Iere op hul hoede vir Duhan

Duhan van der Merwe probeer om deur Tonga se verdedigers te bars. (Foto: Nicolas Tucat/AFP)

Vergeet maar vir eers van ʼn Van der Merwe-grappie; volgens Bundee Aki is Duhan van der Merwe ʼn rugbykrag waarmee daar rekening gehou moet word.

“Duhan is ʼn rugbyfrats: Hy kan van enige plek op die rugbyveld ʼn aanval loods, terwyl hy ook vinnig en sterk is. Hy is definitief ʼn bedreiging vir ons,” het die Ierse senter gesê.

Van der Merwe – wat in Suid-Afrika gebore is en sy skoolloopbaan aan Hoërskool Outeniqua voltooi  het – is ongetwyfeld een van Skotland se groot sterre.

In sy 37 toetse vir die doedelsakspelers het hy reeds 22 drieë gedruk, terwyl ook al sy stempel by die Wêreldbeker-skouspel in Frankryk afgedruk het.

Ná ʼn stillerige openingswedstryd teen die Springbokke in Marseille, het hy teen Tonga vlamgevat en met sy gebruiklike kraglopies beïndruk.

Hy het al 17 verdedigers in die toernooi geklop en 154 meter vir sy span gevorder. Dan het hy ook ʼn puik drie teen die eilandmanne in Nice gedruk.

Tog meen Aki dat dit dom van Ierland sal wees as hulle Saterdag net vir Van der Merwe in hul belangrike groepwedstryd op die Stade de France dophou.

“Skotland se agterlyn spog ook met spelers soos Darcy Graham en Finn Russell; hulle is almal atletiese spelers. Ons gaan beslis ons hande vol hê om dié ouens in toom te hou.”

Terselfdertyd is die Skotte oorgehaal om Wêreldbeker-wedstryde te wen; selfs al speel hulle teen ʼn span wat hulle in nege van hul laaste tien kragmetings laat les opsê het.

“As jy die beste in die wêreld wil wees, sal jy die topspanne moet klop. Dit is ʼn taai uitdaging om teen Suid-Afrika, Ierland en Tonga in die groepfase te speel, maar as ons in die kwarteindstryd wil speel, sal ons hulle doodeenvoudig net moet wen. Ek glo dat ons oor die spelers beskik om enige span op enige gegewe dag ore aan te sit,” het ʼn onwrikbare Van der Merwe vroeër aan The Scotsman gesê.

Nou ja, as Skotland vir Ierland met agt of meer punte klop en hulle verhoed om ʼn bonuspunt aan te teken, is die wêreld se voorste rugbyspan uit die toernooi.

Die wedstryd begin Saterdag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Uitslae van Skotland en Ierland se laaste tien kragmetings:

19 Maart 2016: Ierland 35 – 25 Skotland in Dublin

4 Februarie 2017: Skotland 27 – 22 Ierland in Edinburgh

10 Maart 2018: Ierland 28 – 8 Skotland in Dublin

9 Februarie 2019: Ierland 22 – 13 Skotland in Edinburgh

22 September 2019: Ierland 27 – 3 Skotland in Jokohama

1 Februarie 2020: Ierland 19 – 12 Skotland in Dublin

5 Desember 2020: Ierland 31 – 16 Skotland in Dublin

14 Maart 2021: Ierland 27 – 24 Skotland in Edinburgh

19 Maart 2022: Ierland 26 – 5 Skotland in Dublin

12 Maart 2023: Ierland 22 – 7 Skotland in Edinburgh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Skotland is goed en het baie talentvolle spelers , maar ek is nie te seker van hul kanse teen Ierland nie. Dit gaan taai wees want die kans vir huistoe vlieg na die wedstryd is groot en beide spanne gaan alles insit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.