Iere skrik groot teen Samoa

Spoggerig. Ierland het die naweek sy dertiende agtereenvolgende oorwinning gevier. (Foto: Irish Rugby/X)

ʼn Mens sal nooit werklik weet wat die regte bestanddele vir ʼn wenresep voor ʼn Wêreldbeker-rugbytoernooi is nie.

Moet ʼn span vooraf alles voor hom platvee? Of kan hy ook baat daarby as hy sukkel?

Dis hoekom daar nie alles in die Iere se sukkeloorwinning van 17-13 in hul laaste Wêreldbeker-opwarmingswedstryd Saterdagaand teen Samoa in Bayonne gelees moet word nie.

Ja, vir momentum en selfvertroue is dit baie belangrik om op die wenpad te bly, maar die oud-Springbokafrigter Kitch Christie het altyd gesê die kenmerke van ʼn goeie span is om op die wenpad te bly – al raak jy soms die kluts kwyt.

Slegs ʼn paar weke gelede is die Springbokspan met 35-20 deur die All Blacks in die Rugbykampioenskap in Auckland geklop.

Die Bokke het Vrydagaand op Twickenham byna dieselfde All Black-span met ʼn skitterende oorwinning van 35-7 verfomfaai.

Dit is hoekom die Iere, wat steeds eerste op die wêreldranglys is (die Bokke skuif nou bo die All Blacks in tot tweede) saam met die Bokke, Franse en All Blacks die gunstelinge bly.

Dit was eina-eina teen Samoa, daar is leemtes oopgevlek – maar ook die Iere se 13de opeenvolgende oorwinning.

Onthou gerus dat Samoa en Fidji, wat Engeland Saterdag op Twickenham met 30-22 geskok het, baie verbeter het deur die afgelope twee seisoene as Moana Pasifika en Fijian Drua in die Superreeks saam met Nieu-Seeland en Australië se beste spanne te speel.

Hulle kon diepte skep, hul spelers is fikser en dissipline het baie verbeter. Boonop is albei spanne versterk met ʼn rits spelers (veral Fidji) wat in Europa speel.

Vir die Iere, wat Sondag in Dublin aankondig watter 33 spelers Wêreldbeker toe gaan, was die lustelose vertoning teen Samoa dalk net die regte medisyne.

Hul topspelers is beslis beter as die sogenaamde tweede span. Boonop speel beserings ʼn baie groot rol.

Wanneer Hugo Keenan, James Lowe, Bundee Aki, Garry Ringrose, Robbie Henshaw en Jamison Gibson-Park speel, is daar ʼn omwenteling agterlangs.

Geharde ervare voorspelers soos Tadhg Furlong, Andrew Porter, Iain Henderson, James Ryan, Peter Mahony, Josh van der Flier en Caelan Doris vul mekaar aan.

Dit is hoekom die Iere se vaal vertoning teen die begeesterde Samoa dalk nie ʼn werklike rigtingwyser was nie, maar net die regte medisyne.

Puntemakers: Ierland 17 (7): Drieë: Jimmy O’Brien, Conor Murray, Rob Herring. Doelskop: Jack Crowley.

Samoa 13 (10): Drie: Duncan Paia’Aua. Doelskop: Lima Sopoaga. Strafdoel: Sopoaga (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.