‘Ierland gaan nie Wêreldbeker wen’

Ierland se Johnny Sexton. (Foto: John Cowpland/DPPI via AFP.)

Volgens Ugo Monye kan Ierland se sprokiesverhaal-vertonings in aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi in ʼn nagmerrie in Frankryk ontaard.

Die voormalige Engeland-vleuel meen dat die Iere oudergewoonte nie die pyp by die groot internasionale uitklopskouspel sal rook nie.

“Ierland gaan nie die Wêreldbeker wen nie,” was sy onmiddellike antwoord toe hy verlede week oor die onderwerp gepols is.

Hy het voortgegaan en die sterbelaaide Leinster se nederlaag in die Kampioenebeker-eindstryd teen La Rochelle uitgesonder.

“Ek dink Ierland se grootste swakpunt is hoe hulle belangrike wedstryde benader. Hulle sukkel wanneer hulle teen spanne soos Suid-Afrika, Frankryk en Nieu-Seeland speel; daarom het hulle nog nooit verder as die kwarteindstryd van die Wêreldbeker gevorder nie.”

Hy het rugbyliefhebbers ook gewaarsku om hulle nie teen Ierland se nommereenstatus en Andy Farrell se knap afrigterswerk blind te staar nie.

“In 2018 was hulle ook die topspan op die punteleer, Joe Schmidt was die afrigter van die jaar en Johnny Sexton die voorste speler. Al daardie toekennings was egter van geen nut toe hulle in die kwarteindstryd in Japan uitgeskakel is nie.”

Volgens Monye fokus Europese ondersteuners hopeloos te veel op wat in die Noordelike Halfrond gebeur.

“Die Rugbykampioenskap begin binnekort en dan sal almal skielik onthou dat Argentinië en Australië goeie rugbyspanne is, om nie eens van Nieu-Seeland te praat nie. Dan is Suid-Afrika die verdedigende wêreldkampioenspan en die Springbokke is ongelooflik.”

Schalk Brits het vantevore ʼn soortgelyke mening gereed gehad.

Die veelsydige voorspeler, wat in 2019 deel van die Springbokke se Wêreldbeker-wenspan was, glo dat die Iere dikwels stoom verloor wanneer hulle juis moet spoed optel.

“Ierland is ʼn vreemde rugbygeval. Hulle het nog altyd uitstekende spel in die tydperk tussen die Wêreldbeker-toernooie opgedis, maar sodra dit Wêreldbeker-tyd is, is dit ʼn ander storie,” het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokkie ·

Ek is baie lief vir die Iere, maar wat Monye en Brits hier sê, is baie waar. Amper soos SA -krieketspanne se “choke” wannneer dit werklik saak maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.