Immergroen Ruan sê hy is amper klaar met rugby

Ruan Pienaar in aksie. (Foto: GB Jordaan)

As jy die woord “strydros” is in die verklarende woordeboek opsoek, moet jy nie verbaas wees as daar ʼn foto van Ruan Pienaar langs die beskrywing is nie.

Want die 40-jarige Pienaar – hy het ʼn paar dae gelede dié mylpaalverjaardag gevier – is ongetwyfeld ʼn oudstryder wat bekend is vir sy onverskrokke spel op die rugbyveld.

Nou het die veteraan van 88 Springbok-toetse, 141 kragmetings vir Ulster, amper 30 uitdrafsessies vir Montpellier en ʼn magdom wedstryde in die kleure van die Sharks en die Cheetahs besluit dat hy gereed is om sy stewels binnekort weg te bêre.

Pienaar het in ʼn onderhoud met Netwerk24 bevestig dat hy in Mei sy finale rugbywedstryd sal speel.

“Ek wou al in Oktober my uittrede aangekondig het, maar is toe omgepraat. Ek voel egter dat die tyd nou reg is; ek dink die laaste twee maande daaraan om op te hou,” het die ervare agterspeler gesê.

Hy lewer egter steeds kookwaterspel – soos wat sy vertoning in die jongste Curriebeker-eindstryd teen die Pumas onderstreep.

Pienaar was die argitek van die Vrystaters se sukses met sy taktiese skopwerk, kalmte onder druk en vermoë om die bal na sy gevaarlike agterlyn te versprei.

Om dan nie eens te praat van sy komkommerkoel en in die kol stelskoppoging teen Griekwas in aanloop tot die eindstryd nie.

Gʼn wonder hy is Donderdagaand as die Curriebeker-speler van die jaar by SA Rugby se toekenningsgeleentheid in Johannesburg aangewys nie.

“Die laaste vyf jaar by die Cheetahs, waar alles vir my begin het, sorg vir baie goeie herinneringe,” het hy gesê.

Pienaar is ongetwyfeld ʼn held in Bloemfontein waar hy sedert sy terugkeer na Suid-Afrika in 2019 vir ’n paar Curriebeker-wenpartytjies gesorg het.

Maar hy is net so geliefd in Ierland waar sy heldedade saam met Ulster vir baie hoogtepunte gesorg het. Hy is onder meer in 2020 vir die Pro14-span van die dekade saam met spelers soos Johnny Sexton, Alun Wyn Jones en Jonathan Davies gekies.

Wanneer dit op die veld saak maak, kan ʼn span altyd op Ruan Pienaar se knoppie druk. Hy is maar net so ʼn speler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.