Is dit Farrell of Ford teen Fidji?

Engeland se Owen Farrell. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Gaan Owen Farrell of George Ford die nommertientrui vir Engeland in sy kwarteindstryd teen Fidji in Marseille dra?

Steve Borthwick gaan Vrydag sy span vir die wedstryd aankondig, maar volgens die Britse media geniet Farrell die binnebaan om op die Stade de Marseille uit te draf.

Volgens oudspeler Matt Dawson is dit die grootste oomblik – wat spankeuses betref – van Borthwick se internasionale afrigtersloopbaan.

“Owen Farrell beskik oor ongelooflike sterk punte, terwyl hy ook ʼn positiewe invloed op die oefenveld het. ʼn Mens hoor gereeld hoe die spelers en afrigters daaroor praat,” het Dawson gesê.

Maar die 50-jarige skrumskakel, wat in 2003 die Webb Ellis-trofee saam met Martin Johnson-hulle omhoog gehou het, meen dat Ford ook baie waarde tot die span voeg.

“As jy egter na die vollepakketlosskakel vir Engeland soek, dan is dit George Ford. Sy vertonings teen Argentinië en Japan onderstreep die stelling: Hy was in volle beheer van die wedstryde en Engeland het as ʼn eenheid saamgespeel.”

Die 30-jarige Ford het toe gewys dat hy nie sommer sy span in die steek sal laat nie.

Hy het byvoorbeeld ál 27 van die Rose se punte teen die Suid-Amerikaners aangeteken, terwyl hy sy teenstanders drie keer met sy skepskopvaardighede onder druk geplaas het.

George Ford laat waai met een van sy skepskoppogings. (Foto: Nicolas Tucat/AFP)

Wat die prestasie meer merkwaardig maak, is dat hy maar min speelkans kry terwyl Farrell die kapteinskapleisels vashou.

Maar die Engeland-kaptein se têkkeltegniek laat hom gereeld in die steek en Ford het sy kans met al twee hande aangegryp terwyl Farrell geskors was.

Skielik was hy Engeland se groot held en Borthwick kon nie ophou om sy lof te besing nie.

“George is ʼn baie veelsydige speler. Hy kan met die bal hardloop, met uitstekende aangee- en skopwerk vorendagkom, terwyl hy helder in drukkokersituasies kan dink. Dit het gelyk of hy oor soveel meer tyd as ander spelers beskik toe hy daardie skepskoppe oor die dwarslat gejaag het. Dit is kenmerkend van ʼn topgehalte speler.”

Volgens Dawson ontketen Ford se spel ook die aanvallende vaardighede van Engeland se talentvolste speler: Marcus Smith.

“Smith gaan waarskynlik op heelagter uitdraf en Engeland sal die bal by hom móét uitkry. Farrell kan die bal laat loop, maar sy balverspreidingsvaardighede is beslis nie in op dieselfde vlak as dié van Ford nie. Dit is ’n moeilike keuse.”

Engeland en Fidji speel Sondag om 17:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Vorige uitslae tussen Engeland en Fidji:

1988: Engeland 25 – 12 Fidji

1989: Engeland: 58 – 23 Fidji

1991: Engeland 28 – 12 Fidji

1999: Engeland 45 – 24 Fidji

2012: Engeland 54 – 12 Fidji

2016: Engeland 58 – 15 Fidji

2023: Fidji 30 – 22 Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Hoeveel van daai skoppe is na 60sekondes steeds toegelaat, soos teen Samoa, net een is geblaas, Samoa moes wen.

Niklaas ·

Ek vermoed Engeland se breier speel slim. Dis dalks ‘n heel ander Rose span wat ons gaan sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.