Jaguares,’Canes en Brumbies span die seile

Aan die begin van die seisoen het baie min mense die Jaguares ʼn kans gegee om die uitspeelrondes van die Superrugbyreeks te haal.

Hulle het die meeste van ons verkeerd bewys en veel erger, hul vertoningslys het selfs die Crusaders die afgelope twee maande in die skadu te stel.

Die Jaguares het vroeg Saterdagoggend hul bepalings in die groeprondes in Buenos Aires afgesluit toe hulle die Sunwolves met 52 – 10 verniel het nadat hulle rustyd met 21 – 10 voor was.

Hulle het strate beter as die vier Suid-Afrikaanse spanne in die SA groep gevaar, meer drieë (60) as enige ander span in die groep gedruk en speel nou tuis in die kwarteindronde, en moontlik ook in die halfeindronde.

Ja, almal weet dis die Argentynse nasionale span in ʼn ander gewaad, maar ironies genoeg het niemand in die eerste drie seisoene daaroor gekla nie.

Maar noudat hulle vanjaar ook die Nieu-Seelandse en Australiese spanne op ʼn drafstap uitgestof het, is daar papelellekoors.

In hul eerste seisoen in 2016 het hulle 13de geëindig, in 2017 10de en verlede jaar sewende.

Nou is hulle eerste in hul groep en tweede op die algehele puntelys en lê hulle uitgerus en wag in Buenos Aires.

Dink net daaraan, ʼn lang vlug na Buenos Aires, ʼn fisieke en goed afgerigte span wat wag, ver van die huis af.

* Punte: Jaguares 51 (14): Drieë; Sebastian Cancelliere (2), Santiago Carreras, Montoya, Juan Cruz Mallia, Matias Moroni, Javier Ortega Desio, strafdrie (7 punte).  Doelskoppe: Domingo Miotti (5).  Sunwolves: Drieë: Gerhard van den Heever, Semisi Masirewa.

* In Wellington het All Black-afrigter, Steve Hansen en twee van sy hulpafrigters en medekeurders, Ian Foster en Grant Fox, genoeg wys geword uit die kragmeting tussen die Hurricanes en die Blues, wat die ’Canes met 29 – 24 gewen het nadat hulle in ’n stadium met 5 – 24 agter was.

Die Hurricanes het die meeste van hul All Blacks laat rus, maar steeds hul 12de oorwinning van die seisoen behaal.

Hulle het vierde op die algehele puntelys (54 punte) geëindig en nou speel hulle tuis in die kwarteind.

Die groot pluspunte vir Hansen-hulle was die vertoning van die Blues se All Black-senter Sonny Bill Williams, wat min tekens van sy langtermynbeserings getoon het.

Williams was soos ʼn blink sikspens, opgetrekte kouse, kort broekie, kort geskeerde hare en daarop uit om sy stempel af te druk. Hy het wel een of twee foute met van sy drukaangeë begaan, maar soos Hansen sê, hy hoef niks te bewys nie. Die belangrikste is dat hy beseringsvry bly.

Skryf dit dus maar neer, Williams sal vanjaar sy swanesang in die All Black-trui hê.

* Punte: Hurricanes 29 (5): Drieë: Peter Umaga-Jensen (2), Fletcher Smith, Isaia Walker-Leawere.  Doelskoppe: Jackson Garden-Bachop (3). Strafdoel: Garden-Bachop.  Blues 24 (24): Drieë: Taniela Tele’a, Caleb Clarke, Melani Nanai. Doelskoppe: Otere Black (3). Strafdoel: Black.

* In Canberra het die Brumbies hul saai en voorspelbare dryfmaaltaktiek teen die Reds weer suksesvol uitgestal toe hulle die Reds met 40 – 27 afgemaai het.

Wees maar verseker, as jy nie die Brumbies se rolmale kan stuit nie, gaan jy in Canberra in die kwarteindronde vasval. Hulle het dit byna vervolmaak, daar is nie werklik ʼn teenvoeter daarvoor nie, tensy jy op hulle bal in die lynstane meeding en hoop om hul besit te bederf of die losgemaal vinnig en binne die reëls af te trek.

Só nie, gaan jy die prys betaal en agter die pale staan.

Aan die ander kant, die Brumbies het ook die vermoë om die bal wyd te rek, vinnig te speel en af te rond. Hulle het vyf drieë teen die Reds gedruk (asook ʼn strafdrie nadat ʼn rolmaal onwettig afgetrek is). Hulle het 65 drieë in die groeprondes gedruk en 14 ligapunte meer as die Rebels in die Australiese groep aangeteken.

* Punte: Brumbies 40: Drieë: Anthony Muirhead, Locky McCaffrey, strafdrie (7 punte). Rory Arnold, Tom Wright, Murray Douglas. Doelskoppe: Christian Lealiifano (3), Ryan Lonergan.

Reds 27: Drieë: Bryce Hegarty, Duncan Paia’aua, Liam Wright. Doelskoppe: Hegarty (3). Strafdoel: Hegarty. Skepdoel: Matt McGahan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.