Japan klop Russe, maar sjoe!

Japan se Kotaro Matsushima (links) en Vladislav Sozonov van Rusland (20 September 2019) (Foto: AP Photo/Jae Hong)

Die verwagtinge, veral ná ʼn kort, kragtige en kleurvolle openingseremonie, was hemelhoog en dit het sekerlik daartoe bygedra dat Japan se rugbyspan sy Wêreldbekeraanslag in Tokio met ʼn bondel senuwees begin het.

Japan het die onbesonge Rusland met 30-10 geklop nadat die rustydtelling net 12-7 in die tuisspan se guns was.

Japan kon eers in die 38ste minuut die rustydvoorsprong neem ná Kotaro Matsushima se tweede drie.

Uiteindelik het Japan redelik maklik gewen, maar daar wag baie harde werk op die afrigter, Jamie Joseph, om bo Ierland en Skotland in Groep A te eindig.

Ironies genoeg is al vier Japan se drieë deur spelers met Suid-Afrikaanse verbintenisse gedruk.

Matsushima het Japan se eerste driekuns in ʼn WB-toernooi behaal en boonop is ʼn vierde drie nie toegeken nie nadat hy die bal oor die doellyn verloor het. Die 26-jarige Matsushima, wie se pa ʼn Zimbabwiër is en sy ma van Japannese afkoms is, is in Pretoria gebore voordat die gesin na Japan verhuis het. Hy het in 2012 na Suid-Afrika teruggekeer waar hy 12 wedstryde vir die Sharks se o.19-span gespeel het. Hy het ook twee Vodacombeker-wedstryde vir die KwaZulu-Natallers gespeel. Hy het ook in 2015 vir die Waratahs en 2016 vir die Rebels in die Superreeks gespeel voordat hy hom by Suntory Sungoliath en die Sunwolves in Japan gevestig het.

Die ander drie is deur die oud-Cheetah en Blou Bul Lappies Labuschagne gedruk, wat een van die wenspan se min werklike uitblinkers was.

Geoordeel aan Vrydag se wedstryd gaan taktiese skopwerk vanjaar ʼn baie groot rol speel. Dit was nie te warm nie, maar steeds bedompig en die bal was glad. Dit het tot bottervingers, hanteerfoute en oordeelsfoute onder hoë skoppe gelei.

* Punte: Japan 30 (12): Drieë: Kotaro Matsushima (3), Lappies Labuschagne. Doelskoppe: Yu Tamura, Rikiya Matsuda. Strafdoele: Tamura (2).

Rusland: 10 (7): Drie: Kirill Golosnitskiy. Doelskop: Yury Kushnarev. Strafdoel: Kushnarev.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Die Russe wat eiiintlik niks meer as ‘n amateurspan is het werklik verbaas met die rugby wat hul geespeel het en vlei die telling vir Japan want die Russe was nie 20 ppunte swakker nie.

wiehan ·

Hoekom gaan een van ons afrigters wat nie hier werk kan kry nie, Rusland toe nie. Die Russe is fisies groot mense en as hulle aan ordentelike afrigting bekend gestel kan word kan hulle dalk ‘n hele paar groot spanne oor ‘n paar jaar groot skrikmaak. Die ROOI BERE!

Eddie de Jager ·

Die Russe toon regtig goeie potensiaal. Hulle is groot, fris mense, maar daar is geen spoed. As hulle die manne kan vind wie daardie breekslae kan afrond met spoed is Rusland ‘n rugby wêreld moontheid.

Werner ·

Die skeidsregter, Nigel Owens, was uiters swak. Selfs vir die laaste vier jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.