Jordan erken WB-eindstryd het lank by Kiwi’s gespook

Will Jordan loop sy rieme teen Pieter-Steph du Toit vas. (Foto: Millereau Phillipe/KSMP via AFP)

Dit is nou al meer as 70 dae sedert die Springbokke vir die All Blacks in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk geklop het.

Suid-Afrika het sy rugbyaartsvyand met 12–11 op die Stade de France gewen om die Webb Ellis-trofee vir die vierde keer omhoog te hou.

Dit mag dalk soos ʼn stuk uit ʼn sepie klink, maar volgens die All Blacks se Will Jordan het die Nieu-Seelanders ʼn tydjie nodig gehad om die nederlaag te verwerk.

“Daar was beslis ʼn kol waar ʼn mens ʼn bietjie te veel daaraan gedink het. Dit het ʼn rukkie geneem om oor die wedstryd te kom,” het die blitsige vleuel gesê.

Jordan was ongetwyfeld een van die sterre van die Wêreldbeker-toernooi. Hy het die Franse rugbyvelde aan die brand gespeel én agt drieë in die toernooi gedruk.

Dit is ʼn prestasie wat hom gelyk met Bryan Habana [2007], Jonah Lomu [1999] en Julian Savea [2015] vir die meeste drieë nóg in die internasionale rugbyskouspel plaas.

Maar die Bok-verdediging het hom weg van hul doellyn gehou en die blitsige Jordan kon nie sy driedrukvernuf in die eindstryd uitstal nie.

Tog meen hy dat die Kiwi’s nou klaar oor alles getob het. Volgens die 25-jarige speler was dit ʼn voorreg om in Frankryk uit te draf.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring om daar te speel en ek het die hele toernooi baie geniet. Ek is nou uitgerus en sien uit na die nuwe rugbyjaar.”

Hy is ook opgewonde om saam met die nuwe afrigter, Scott “Razor” Robertson, te werk.

Robertson het ʼn rits trofees saam met die Crusaders ingeoes en hy sal aan die stuur van die All Blacks se rugbysake tot die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2027 wees.

“Razor weet presies wie hy is. Hy is nie iemand wat gaan verander bloot omdat hy in ʼn nuwe omgewing is nie. Ja, internasionale rugby is ʼn splinternuwe uitdaging, maar hy weet hoe hy dinge wil benader en hoe om sy spelers te inspireer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.