Joy maak blasergeskiedenis by Wêreldbeker

Joy Neville is as een van die televisie-skeidsregters vir die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk aangewys. (Foto: Nicolas Tucat/AFP)

Ná 70 wedstryde vir haar land se nasionale vrouespan het Joy Neville besluit om haar rugbystewels vir die skeidsregterfluitjie te verruil. En in 2017 was die 39-jarige Ier onder meer aan die stuur van die Wêreldbeker-eindstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland se vrouespelers in Bath.

Drie jaar later het sy die eerste vrouewedstrydbeampte geword in die kykweerkamer vir ʼn internasionale manstoets toe sy as televisieskeidsregter vir die kragmeting tussen Wallis en Georgië opgetree het, terwyl sy ook al deel van die Sesnasies-aksie was.

Nou sorg sy vir nóg ʼn tikkie unieke geskiedenis.

Wêreldrugby het Woensdag aangekondig dat Neville onder sy groep televisieskeidsregters vir die Wêreldbekertoernooi vir manspelers in Frankryk sal tel.

Dit is ʼn eerste keer vir vroueskeidsregters.

Ander bekende TV-wedstrydbeamptes sluit Wallis se Ben Whitehouse en Suid-Afrika se Marius Jonker in.

Suid-Afrika se Jaco Peyper. (Foto: Hansie Linde)

Dan tel Jaco Peyper se naam onder die uitgelese groep van 12 hoofskeidsregters wat tydens die toernooi wet en orde op die veld moet handhaaf.

Dit sal die 42-jarige Bloemfonteiner se derde Wêreldbeker-toernooi op ʼn streep wees nadat hy in 2015 sy buiging in Engeland gemaak het.

Europese rugbybase het vandeesweek ook bevestig dat Peyper op 20 Mei in beheer van die Kampioenebeker-eindstryd tussen Leinster en La Rochelle in Dublin sal wees.

Engeland se Karl Dickson en Christophe Ridley sal sy assistente wees, terwyl nog ʼn Engelsman – Tom Foley – as die TV-skeidsregter sal optree.

“Peyper sal geskiedenis maak wanneer hy die eerste Suid-Afrikaanse skeidsregter word om in ʼn Europese eindstryd op te tree,” het European Professional Club Rugby (EPCR) in ʼn verklaring gesê.

Nic Berry, die Australiese skeidsregter vir wie Rassie Erasmus so gekritiseer het, sal ook op sy fluitjie in Frankryk blaas.

  • Skeidsregters: Nika Amashukeli (Georgië), Wayne Barnes (Engeland), Nic Berry (Australië), Andrew Brace (Ierland), Matthew Carley (Engeland), Karl Dickson (Engeland), Angus Gardner (Australië), Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland), Luke Pearce (Engeland), Jaco Peyper (Suid-Afrika), Mathieu Raynal (Frankryk) en Paul Williams (Nieu-Seeland).
  • Assistentskeidsregters: Chris Busby (Ierland), Pierre Brousset (Frankryk), James Doleman (Nieu-Seeland), Craig Evans (Wallis), Andrea Piardi (Italië), Christophe Ridley (Engeland) en Jordan Way (Australië).
  • Televisieskeidsregters: Brett Cronan (Australië), Tom Foley (Engeland), Marius Jonker (Suid-Afrika), Brian MacNeice (Ierland), Joy Neville (Ierland), Brendon Pickerill (Nieu-Seeland) en Ben Whitehouse (Wallis).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Dit is net vir my so verkeerd. Vrouens moet by vroue sport bly en mans by mans sport. My mening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.