Kampioenebeker: Stormers laat Leicester groot skrik

(Foto: TheStormers/Twitter)

Wanneer ʼn rugbyspan met slegs vier punte agter loop en drie minute voor die einde ʼn strafskop vyf meter van die teenstanders se doellyn af kry, skop jy hoek toe, veral as jou skrum nie oorheers nie.

Maar die onervare Stormers het Sondag op Welford Road in Leicester besluit om eerder te skrum. Hulle het ʼn daaropvolgende strafskop afgestaan nadat die skrum geswaai het en alle voordeel was daarmee heen.

Dit het Leicester in staat gestel om die bal ver uit te skop en het indirek tot ʼn laaste bonuspunt-drie gelei.

Die Stormers is met 35-26 in die Europese Kampioenebekerreeks geklop, maar kon so maklik gewen het.

Hulle was rustyd welverdiend met 17-10 voor en het Leicester, gelaai met twee Wêreldbekerwenners in Handré Pollard en Jasper Wiese en die Argentynse haker en kaptein, Julian Montoya, laat klippe kou.

Lig die hoede vir die onbesonge Stormers, wat met B-span weg van die huis Leicester al hul dae besorg het. Was dit nie vir Pollard nie, kon die Stormers baie na aan ʼn skok-oorwinning gekom het. Pollard het ʼn drie gedruk, met drie doelskoppe en drie strafdoele geslaag vir ʼn bydrae van 20 punte.

Die Stormers het verras, was vol passie en vuur en ondernemingsgees.

Die nuweling-losskakel Jurie Mathee, Paul de Wet, Keke Morabe, Nama Xaba, Connor Evans, Hendré Stassen en die veteraan Brok Harris was uitstaande.

Die Stormers se amperse oorwinning oor een van die swaargewigte van Europese rugby, het die kroon vir ʼn skitterende naweek vir Suid-Afrikaanse spanne gespan. Die Bulls het Saterdag vir Saracens in die Kampioenebeker-reeks met 27-16 geklop, die Sharks het Pau in die Uitdaagbekerreeks met 45-5 verniel en die Lions se B-span het Perpignan met 28-12 geklop. Vroeër het die Cheetahs ook puik vertoon toe hulle Zebre in Parma met 33-15 ore aangesit het.

Puntemakers: Leicester 35 (10): Drieë: Solomone Kata (2), Handré Pollard, Josh Bassett. Doelskoppe: Pollard (3). Strafdoele: Pollard (3).

Stormers 26 (17): Drieë: Keke Morabe, Courtnall Skosan. Doelskoppe: Jurie Matthee (2). Strafdoele: Matthee (3). Skepdoel: Matthee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.