Kapenaars hou ogie oor speeloppervlak

Die gras spat tydens die VRK-halfeindstryd tussen die Stormers en Connacht. (Foto: Hansie Linde)

Beskrywende terme soos “lowergroen tapyt” en “uitstekend vir skrums” word deesdae nie té gereeld gehoor wanneer daar na die speeloppervlak van die DHL-stadion in Kaapstad verwys word nie.

Veral nie ná ʼn Monster Jam-sessie en twee klipharde Stormers-wedstryde teen die Bulls en Connacht nie. Gras spat sommer in alle windrigtings wanneer die voorspelers vorentoe beur.

ʼn Nuwe speeloppervlak – wat uit ʼn mengsel van sintetiese materiaal en gras sal bestaan – word eersdaags gelê, maar nie voordat die Stormers gasheer speel vir Munster in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) nie.

Met Springbokke soos Steven Kitshoff, Joseph Dweba en Frans Malherbe in die voorry is skrumwerk een van die Stormers se gedugste wapens. En skrums kan met ʼn  huis vergelyk word: Dit het ʼn stewige grondslag nodig om sterk te staan.

Juis om dié rede sal die Kapenaars alles in hul vermoë doen om nie net die speeloppervlak vir die Munster-kragmeting te beskerm nie, maar ook om sy lewensverwagting ʼn klein bietjie langer uit te rek.

Die VRK-silwerware moet immers [weer] staanplek in Kaapstad kry.

Die Westelike Provinsie se volgende tuiswedstryde in die Curriebeker-reeks (teen die Pumas en die Leeus) word dus na die Athlone-stadion geskuif om die hoofstadion ʼn blaaskans vóór die groot eindstryd te gee.

“Dit is belangrik om die veld te beskerm,” het John Dobson, afrigter, vroeër die week gesê.

“Die verg baie tyd en harde werk om goeie skrum-momentum op te bou. Ja, ʼn mens kan stilstaande skrums in die eindstryd verwag, maar ons sal beslis hard werk om die septer in die afdeling te swaai.”

  • Die Curriebeker-wedstryd tussen die Streeptruie en die Pumas begin Vrydag om 17:00. Die askie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Curriebeker-punteleer:

  1. Cheetahs: 38 punte
  2. Pumas: 35 punte
  3. Haaie: 33 punte
  4. Westelike Provinsie: 27 punte
  5. Leeus: 24 punte
  6. Griekwas: 23 punte
  7. Blou Bulle: 22 punte
  8. Griffons: 9 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.