Kaptein Cane se doppie dalk geklink?

Sam Cane. Foto: Twitter.

Nadat hulle vier van hul laaste vyf toetse verloor het sowel as ’n reeksnederlaag teen Ierland, het Ian Foster se All Blacks gesorg dat Nieu-Seeland in ’n nasionale rugbykrisis gedompel is.

En hoewel baie Kiwi-rugbyondersteuners Foster se kop eis, lyk dit eerder of Sam Cane se kapteinskapdoppie geklink is.

Volgens ’n berig in Otago Daily Times is daar ’n moontlikheid dat Sam Whitelock – en nie Cane nie – die All Blacks op hul Suid-Afrikaanse safari sal aanvoer. Die twee spanne kom die eerste keer op 6 Augustus in die Mbombela-stadion teen mekaar te staan.

Die Nieu-Seelanders was so te sê onstuitbaar in die Steve Hansen-era waartydens hulle net tien van sy 106 toetse aan die stuur van die All Blacks verloor het.

Maar sedert Foster die afrigtersleisels vasgevat het, het hulle reeds agt van die 24 toetse ná Hansen verloor.

Daar word ook berig dat Joe Schmidt, die voormalige Ierland-afrigter, meer betrokke by die span sal wees. Dalk in die hoedanigheid as die direkteur van rugby.

Onder Schmidt se leiding het Ierland drie keer met die Sesnasies-louere weggestap, terwyl hulle ook vir die eerste keer in hul rugbygeskiedenis die eerste plek op die internasionale ranglys beklee het.

Maar indien Cane van die kapteinskap gestroop word, sal dit vir hom ’n bitter pil wees om te sluk.

Ja, baie ondersteuners meen dat Whitelock veel eerder in Kieran Read se kapteinskapvoetspore moes gevolg het, maar die 30-jarige losvoorspeler is rateltaai.

As ’n nekoperasie in 2018 nie suksesvol was nadat hy homself teen die Bokke se Francois Louw op Loftus Versfeld vasgeloop het nie, sou hy moontlik die All Blacks se vordering vanuit ’n rolstoel moes dophou.

Hoewel die All Blacks die kastaiings in daardie toets uit die vuur gekrap het om met 32-30 te wen, was Cane se rugbyloopbaan amper iets van die verlede nadat hy ’n nekfraktuur opgedoen het.

“So ernstig soos wat die besering was, was ek steeds taamlik gelukkig omdat dit baie erger kon gewees het,” het Cane destyds gesê.

“Ek was letterlik ’n paar millimeter daarvan weg om nooit weer rugby te speel nie. Ek is so dankbaar dat ek ’n normale lewe kan lei én boonop weer kan rugby speel.”

Foster was destyds ook van mening dat Cane die beste kandidaat was om die All Blacks vorentoe te neem.

“Ons wou dit so gou moontlik bevestig dat Sam die nuwe kaptein van die All Blacks is omdat hy ’n sleutelrol in ons beplanning sal speel. Hy beskik oor die natuurlike vermoë om met almal oor die weg te kom, maar hy kan ook streng wees wanneer dit van hom verwag word,” het Foster gesê.

Nieu-Seeland kondig môre hul toerspan aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Die Bokke is nog nie eers behoorlik weg uit die kompetisie nie en NZ en Aus rugby is klaar aan die taan en “in depro”. Hoe het Oom Hendrik destyds vir die statebond gesê? Good bye

Kokkie ·

Ek is bevrees die All Blacks gaan jou nog baie swaar laat sluk aan daardie stelling.

Niklaas ·

Daar moet natuurlik ‘n skuldige sondebok gevind word vir die AB span se verloor wedstryde. En wie anders as die afrigter en ook die span kaptein ?

Kokkie ·

Amper soos jy gekerm het oor Toetie en Allistair, ook oor Heyneke toe die Bokke teen Japan verloor het. Ja, ek ook. As die fout by die afrigter of kaptein lê, moet hulle gaan. Dis die harde werklikheid van die lewe en van rugby.

piet ·

Net 10 toetse verloor uit 106. Dis nou wat jy totale dominansie sal noem. Goeie genugtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.