Kaptein Duane wil van voor lei

Duane Vermeulen (Foto: GB Jordaan)

Vanmiddag se Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die Springbokke en Argentinië op Ellispark is nie net Jacques Nienaber se laaste tuiswedstryd as hoofafrigter van die Bokke nie, maar dit kan ook Duane Vermeulen se finale internasionale kragmeting in Suid-Afrika wees voordat hy dalk sy rugbystewels wegbêre.

Die hardebaard losvoorspeler het al in meer as 60 toetse vir die Springbokke uitgedraf, maar op 37-jarige ouderdom weet hy dat die horlosie vir niemand terugstaan nie. Nie eens vir Duane Vermeulen nie.

“As ʼn span het ons oor die feit gepraat dat dit waarskynlik my laaste tuiswedstryd in ʼn Springbok-trui is. Dit mag dalk ʼn emosionele oomblik wees, maar dit is belangrik dat ek daardie emosies gebruik om die span goed te lei,” het Vermeulen gesê.

Die Wêreldbeker-groep word op 8 Augustus aangekondig en volgens die oudleerder van Hoërskool Nelspruit wil die spelers elke geleentheid gebruik om hul Frankryk-kleim af te steek.

Die agtsteman sal 37 jaar en 69 dae oud wees wanneer die Springbokke hul openingswedstryd van die uitkloptoernooi teen Skotland in Marseille speel.

Toegegee, om ʼn speler vir sy ervaring en reputasie te kies kan by tye lelik boemerang – vra net vir die Proteas wat op ʼn beseerde Dale Steyn en ʼn sukkelende Hashim Amla in die vorige Wêreldbeker in Engeland gesteun het.

Maar “Thor” het tot onlangs nog sy teenstanders in die kleure van Ulster opgedreun.

Volgens die amptelike Verenigde Rugbykampioenskap-statistieke het Vermeulen kwalik met ʼn duikslag misgetas, terwyl hy ook ʼn hele paar keer omgekeerde balbesit bewerkstellig het.

Daarbenewens het hy ook ʼn barshou gespeel toe hy die Springbokke teen die Wallabies op Ellispark aangevoer het.

“As ek waarde tot die span kan voeg, sal ek beslis vir ʼn plek in die groep veg. Ek wil deel wees van die Bok-span en ek wil hulle by die Wêreldbeker verteenwoordig,” het Vermeulen in ʼn vorige onderhoud met RugbyPass gesê.

Vanmiddag se Ellispark-stryd is ook die Springbokke se finale kleedrepetisie in Suid-Afrika voordat die Wêreldbeker-voorbereiding in alle erns begin.

“Ons wil beslis dinge op ʼn hoë noot afsluit. As ons goed speel en ordentlik wen sal dit selfs baie meer spesiaal wees.”

Die aksie begin vanmiddag om 17:05 en dit word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.