Kavaliers uitgedien? Kan Oos-Vrystaat herleef?

Is dit tyd vir rugby op grondslag van munisipaliteite? (Illustrasie: www.municipalities.co.za)

Is dit tyd vir rugby op grondslag van munisipaliteite? (Illustrasie: www.municipalities.co.za)

Dis glad nie onmoontlik dat provinsiale spanne soos die Boland Kavaliers en ander binne afsienbare tyd kan verdwyn, of dat`n span soos Oos-Vrystaat kan herleef nie.

Dit is gedagtes wat in rugbykringe rondgegooi word na aanleiding van die toekomstige herskikking binne geopolitieke grense.

Daar word geglo dat die nuwe bestel opwindende moontlikhede vir die vlak van verteenwoordigende rugby op amateurgrondslag bo klubvlak inhou.

Die amateur- provinsiale kampioenskap van die afgelope jare het in `n mate teleurgestel; nooit juis die verbeelding aangegryp nie; en selfs die SA Rugbyunie (Saru) se “terloopse” hantering daarvan het verlede jaar die indruk gewek dat hy dit as `n lastige nagedagte beskou.

In party kringe word selfs gevra of die kleiner bonde wat sukkel om beroepspanne in die veld te stoot nie ander uitweë moet soek nie.

Toeskouersyfers in die gebied van die Bolandse Rugbyunie (BRU) word veral as bewysgrond aangevoer.

Luidens berigte lok klubrugby tot selfs 9 000 toeskouers na party wedstryde. Ondanks die goeie jaar wat die Kavaliers verlede jaar beleef het, het drie van sy vier tuiswedstyde in die Curriebeker se Premierliga skaars 1 000 toeskouers elk gelok. Daar was darem net oor die 4 000 by die kragmeting teen die Blou Bulle.

Dit dui daarop dat die Bolandse rugbygemeenskap eerder sy bekende eie helde ondersteun as die plaaslik onbekende spelers wat van buite na die Kavaliers gelok word.

BOLAND-ama-logoOp grond hiervan word die vraag gevra: Is dit werklik nodig dat `n amateurbond soos die BRU probeer volhou met `n “beroepspan” soos die Kavaliers?

Pleitbesorgers vir `n nuwe bedeling glo dit maak in elke opsig sin dat die BRU van `n beroeps-Curriebekerspan vergeet en eerder daarop konsentreer om as `n ontwikkelingsbond te funksioneer en soveel as moontlik geleenthede vir sy duisende spelers en honderde klubs skep.

Dieselfde geld waarskynlik in `n meerdere of mindere mate vir bonde soos Suidwestelike Distrikte (SWD) met sy Arende, Grens met sy Bulldogs, die Oostelike Provinsie met sy OP Kings, Mpumalanga met sy Pumas, die Luiperds, Griekwas, die Griffons en die Valke.

Daar word geglo die antwoord lê binne die geopolitieke indeling in die skep van verteenwoordigende spanne op die vlak van distriks- en plaaslike munisipaliteite.

Boland word wéér as voorbeeld aangehaal. Dis deel van die Wes-Kaap en dek rofweg die distriksmunisipaliteite Weskus (hoofsetel Moorreesburg), Wynland (Worcester) en Overberg (Bredasdorp).oos-vrystaat rugby

Voorstanders van die nuwe gedagterigting glo die gewone klubligas in die eerste deel van die seisoen kan opgevolg word met `n amateurreeks op nasionale of streekgrondslag wat met die reeks om die Goue Beker in September-Oktober saamval. As voorbeeld word onder meer `n moontlike Wes-Kaapse kampioenskap genoem wat tussen bogenoemde drie distrikte en die SWD se Sentraal-Karoo (Beaufort-Wes) en Eden (George) uitgespook word.

Dit kan in wese as `n tweede- of derdevlak-“Curriebekerreeks” beskou word, en sal inhou dat die topspelers wat hul klubs van Februarie tot Augustus verteenwoordig met insluiting in die streekspanne (geopolitieke distrikte) beloon word. Daar word geglo toeskouersteun sal van die klubs af saam met die plaaslike helde se insluiting na die distrikspanne beweeg.

Die idee word beskou as in ooreenstemming met Nieu-Seeland se plattelandse “Heartland Championship”.

Daar is eweneens diegene wat glo die beoogde indeling kan daartoe lei dat die ou Oos-Vrystaatse en Noord-Natalse bonde in `n nuwe gedaante kan herrys. Hulle voorsien `n moontlike minireeks tussen Oos-Vrystaat (Bethlehem), die Griffons-amateurspan (Welkom) en Noord-KwaZulu Natal (Newcastle).

Die Mpumalanga-rugbyunie het reeds verlede jaar sy ligas volgens die provinsie se distriksmunisipaliteite georden; en Grens en die OP en Grens sal vanjaar in die Oos-Kaap die eerste bonde word om binne geopolitieke grense hande te vat.

By Griekwas het die gedagte blykbaar posgevat dat die distrik Pixley ka Seme (De Aar) `n streekspan in die bond se Superliga inskryf.

madeliefieOok vir Limpopo, wat `n streek van die Blou Bulle-rugbyunie is, is daar moontlikhede om te ontgin, hoewel dit tans waarskynlik net die distrikte Capricorn (Polokwane) en Waterberg (Modimolle) is wat in dié opsig mededingend sal wees. Streekspanne kan egter goeie ontwikkelingsinstumente in die ander distrikte bied.

Wat die resultaat ookal mag wees, word nie verwag dat die “amateur”-bonde sal ophou bestaan nie, en sal elke bond steeds sake in `n nuwe bedeling uitwerk om sy eie omstandighede en sy getal klubs en spelers te pas.

Die Boland sal waarskynlik selfs tot op die vlak van plaaslike munisipaliteite mededingende verteenwoordigende spanne kan kies. Die Swartland- plaaslike munisipaliteit (deel van die Weskus-distriksmunisipaliteit) het op sigself 16 klubs met 3 000 spelers – meer as waaroor party bonde beskik. Daar is diegene wat graag sal wil sien dat `n Swartlandse span, saamgestel uit spelers van klubs soos Wesbank, Never Despair en Moorreesburg, kragte teen streekspanne van Saldanhabaai, Bergrivier, Cederberg en Matzikama meet.

Amateurgrondslag ten spyt sal geld op die ou end die werkbaarheid van enige só `n stelsel bepaal.

Vervoerkoste was een van die belangrikste redes waarom die eertydse subuniestelsel, waarmee die nuwe gedagte baie ooreenstem, meestal gesukkel het om op dreef te kom.

Voorts is die beste subuniespelers se beskikbaarheid dikwels deur werkomstandighede bepaal – en dit is selfs hedendaags nog `n probleem vir baie klubs wanneer hulle bepalings ver weg van hul basis moet nakom.

Nietemin, waar `n wil is, is `n weg, en in baie kringe heers groot opgewondenheid oor die moontlikhede wat die geopolitieke herskikking bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

moekie ·

komaan Suid Afrika dis al wat ons nog oor het van ons volk is ons RUGBY kom ons staan by ons spanne en help hulle om hulle Moriel op te bou kom ons woon meer wedstryde by, ons is mos SUID AFRIKANERS KOM ONS WYS ONS SPANNE ONS IS NOG DAAR VIR HULLE, HOERA VIR RUGBY oud of jonk asb.staan by die AFRIKANER VOLK ONS HET NOG IETS OM AAN VAS TE HOU IS ONS RUGBY biltong, braai en rugby.

Nico K ·

Dit is ‘n baie moeilike probleem. In proffesionele rugby bepaal geld meer geld. Die ryk unie koop die beste spelers en omdat hy wen kry hy meer borge en het dus meer geld om volgende jaar te koop. Klein unies sal nooit kan kompeteer nie. Griekwas kon in ‘n mate vasbyt al hierdie jare, want deur konstant in die A afdeling te speel kry hy wedstryde op TV en dus borge. So die 1000 toeskouers in Wellington is nie hul hoofbron van inkomste nie. As hul op die TV speel kan hul borge kry. Maar dan moet hulle dit ‘n paar jaar lank doen. Anders gaan borge nie belangstel nie. Dit is die rede dat die klein unies klein bly. Daarom gaan kyk mense in daardie areas liewer ander rugby soos skole rugby en in geval van die Kaap ook baie graag klubrugby. In ander dele van die land en eintlik in ander gemeenskappe het klubrugby nie ‘n groot aantrekkings krag nie. Dalk kan die nasionale klubkampioenskappe dit bietjie laat verbeter. Die Varsitybeker het beslis universiteitsrugby ‘n hupstoot gegee. Maar provinsiale rugby in die klein unies het ‘n moeilike pad.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.