Kiwi-rugbybase steun Foster, trek Schmidt nader

Ian Foster verlede Saterdag op Ellispark. Foto: Phill Magakoe/AFP.

New Zealand Rugby (NZR) het amptelik sy steun aan Ian Foster toegesê, nadat die All Blacks die Springbokke die afgelope Saterdag op Ellispark geklop het.

Volgens Stewart Mitchell, voorsitter van die Kiwi-rugbybeheerliggaam, het Foster die jongste hersieningsessie van sy hoofafrigterspos geslaag. Dit was die derde keer in die afgelope 12 maande dat die 57-jarige afrigter se vertoning onder die vergrootglas was.

“Die raadslede het eenparig besluit dat hulle in die aanloop tot die Wêreldbeker-rugbytoernooi volle vertroue in Ian en sy afrigterspan het,” het Mitchell gesê.

“Ek wil dit beklemtoon dat Ian as hoofafrigter en Mark Robinson as uitvoerende hoof die raad se ondersteuning geniet.”

Foster sal dus aan die stuur van sake tot ná volgende jaar se rugbyskouspel in Frankryk bly, terwyl Joe Schmidt deel van sy afrigterskorps word.

“Dit is ’n voorreg om die All Blacks af te rig en dit is iets wat ’n mens nooit as vanselfsprekend aanvaar nie,” het ’n verligte Foster gesê.

Hy is terselfdertyd ook opgewonde oor die rol wat Schmidt by die span gaan vertolk.

Die 56-jarige Schmidt sal voortaan in beheer van die All Blacks se grootste wapen wees, naamlik hul aanvalswerk. Hy het voorheen vir Ierland met groot welslae afgerig, terwyl hy tot onlangs nog een van die Nieu-Seelanders se keurders was.

“Joe was reeds vir ’n geruime tyd in my visier en ons het dit goedgedink om sy kennis meer op die rugbyveld in te span.”

Foster was vroeër onder groot druk nadat die All Blacks vir die eerste keer in jare ’n tuisreeks verloor het, terwyl hulle ook teen die Springbokke op die Mbombela-stadion vasgeval het.

Ondanks hul sege op Ellispark was die Kiwi-rugbybase steeds nie heeltemal oortuig deur sy vertoning as hoofafrigter nie.

Steve Hansen, die voormalige All Blacks-breier, het egter vroeër na die Nieu-Seelandse rugbybeheerliggaam gekap.

“Daar is baie dinge wat deesdae in Nieu-Seelandse rugby hersien word, maar wanneer laas het die administrateurs ook ’n bietjie selfondersoek gedoen?” het Hansen op ’n radioprogram gevra.

“Ian Foster word byvoorbeeld glad nie beskerm nie en ek kan nie dink dat hy tans baie tevrede is nie. Tog glo ek dat dít iets baie groter as bloot net ’n spankwessie is.”

Robinson het intussen erken dat die Foster-sage beter hanteer kon word.

“Ons kry nie altyd dinge 100% reg nie, maar ons doen altyd ons bes om in die belang van die sport en die ondersteuners op te tree,” het Robinson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Die All Blacks het nou bloed geruik. Die spanne van Aus en die Arg Pumas gaan erg sukkel teen die AB’s.
die NZ media het geen genade getoon met die ABs na die Nelspruit uitstappie nie .

JohanR ·

Einde 2022 speel ons teen Frankryk en Ierland Nr1 en 2. As ons teen hulle verloor dan het die All Blacks, Frankryk, Ierland die Aussies en Argentina en Wallis ons die jaar al verslaan. Oe nee wag ons moet nog sien met die Aussies en Argentina, maar ons weet is al jare en jare dat SA die Aussies in Australia gewen het en die Pumas het ons ook al een of twee keer ore aangesit.

Republikein in die Wes Kaap ·

SA Rugby moet John Plumtree aanstel as Bok afrigter. Nienaber kan analisewerk doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.