Kiwi’s sal nie rugbybal vir stresbal verruil

Ian Foster. Foto: Michael Bradley/AFP.

Dit is net benoude katte wat benoude spronge maak. En volgens Ian Foster sal die All Blacks nie ’n rugbybal vir ’n stresbal vóór hul eerste wedstryd teen die Springbokke op Mbombela verruil nie.

Tog het die beleërde Nieu-Seelandse rugbyafrigter erken dat die onlangse reeksnederlaag teen Ierland die katapult is wat gate in die All Blacks se eens gedugte stadsmure geskiet het.

“Nodeloos om te sê het daardie reeks nie die gewenste uitslag gelewer nie, maar harde werk is die beste ding wat ons tans kan doen,” het Foster gesê.

Sedert Foster die afrigtersleisels vasgevat het, het die Kiwi’s reeds agt van die 24 toetse onder sy toesig verloor en talle Nieu-Seelandse rugbyliefhebbers het sy kop geëis.

In ’n neutedop – daar is baie wat meen hy is g’n Steve Hansen of dan die Crusaders se Scott Robertson nie.

“Ek kan nie namens ander praat nie, maar ons raak beslis nie paniekerig nie. Ek het egter begrip daarvoor dat ondersteuners emosioneel raak wanneer die All Blacks ’n reeks verloor.”

John Plumtree (voorspelerafrigter) en Brad Mooar (aanvallendespelafrigter) is egter uitgeskop en Foster erken dat dit ’n aaklige gevoel is om hulle in die pad te steek.

“Hulle is goeie ouens, maar ek moet doen wat in belang van die span is. Dit is hoegenaamd nie ’n weerspieëling van hul vermoëns nie, maar ons moes doodeenvoudig ’n verandering maak.”

Volgens die 57-jarige afrigter wil die All Blacks die komende Rugbykampioenskap wen.

“Ons gaan probeer om met die silwerware weg te stap. Ja, dit gaan ’n moeilike taak wees, maar ek beskou dit as ’n uitstekende geleentheid om vir almal te wys waartoe die All Blacks in staat is.”

Intussen het Richie Mo’unga gesê dat Foster die regte persoon is om Nieu-Seeland na die hoogtes van ouds te neem.

“Ek ondersteun vir Fozzie 100%,” het die Crusaders-losskakel gesê.

“Hy was vroeg in my internasionale loopbaan die All Blacks se assistent-afrigter en ek het toe so baie dinge geleer. Dit is goed om te sien dat hy weer met soortgelyke passie afrig.”

Die eerste toets tussen die Springbokke en die All Blacks word op 6 Augustus in Mbombela (Nelspruit) beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Die All blacks is ‘n goeie span wat op meriete gekies word sonder om velkleur kwotas te gebruik as ‘n veryste so sterkte .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.