Kiwi’s staal hulself vir Argentynse aanslag

Die All Blacks se Beauden Barrett. (Foto: Natacha Pisarenko/AP)

ʼn Paar jaar gelede sou ʼn Wêreldbeker-halfeindstryd teen Argentinië bloot ʼn formaliteit vir die All Blacks gewees het.

Die Nieu-Seelanders het ʼn magdom agtereenvolgende toetse teen die Suid-Amerikaners gewen en dit het nie gelyk of dié droomlopie sommer tot ʼn einde sou kom nie.

Tot 14 November 2020 toe Argentinië die All Blacks met 25 – 15 in Sydney geklop het.

Twee jaar later het hulle in Christchurch selfs ʼn groter haas uit die hoed gepluk toe hulle die Kiwi’s met 25 – 18 op hul tuisveld onkant betrap het.

Nou, al het die All Blacks pas ʼn titaniese kwarteindstryd teen Ierland met 28 – 24 gewen, wil hulle nie die spreekwoordelike wenkar voor die perde inspan nie.

Die twee spanne is Vrydagaand op die Stade de France slaags in die eerste Wêreldbeker-halfeindstryd van die naweek. En Ian Foster verwag ʼn taai stryd teen die Argentyne.

“Jy het ons nog nooit hoor sê dat ons die gunstelingspan is nie. Ons is maar al te bewus van die feit dat enigiets in dié wedstryde kan gebeur,” het die All Blacks-afrigter gesê.

Hy het na die twee onlangse nederlae teen die Pumas verwys om sy stelling te onderstreep.

“Ons weet wat Argentinië al vantevore teen ons gedoen het en ons glo nie dat daar ʼn gunsteling- of buiteperdspan vir die wedstryd is nie. Hulle is op dieselfde vlak as ons en hulle het met wonderlike vertonings vorendag gekom om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.”

Die wedstryd begin Vrydag om 21:00 en dit word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), Jordie Barrett (binnesenter), Mark Telea (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Shannon Frizell (flank), Sam Whitelock (slot), Scott Barrett (slot), Tyrel Lomax (stut), Codie Taylor (haker) en Ethan de Groot (stut). Plaasvervangers: Samisoni Taukei’aho, Tamaiti Williams, Fletcher Newell, Brodie Retallick, Dalton Papali’i, Finlay Christie, Damian McKenzie en Anton Lienert-Brown.

Argentinië: Juan Cruz Mallia (heelagter), Emiliano Boffelli (regtervleuel), Lucio Cinti (buitesenter), Santiago Chocobares (binnesenter), Mateo Carreras (linkervleuel), Santiago Carreras (losskakel), Gonzalo Bertranou (skrumskakel), Facundo Isa (agtsteman), Marcos Kremer (flank), Juan-Martin Gonzales (flank), Tomas Lavanini (slot), Guido Petti (slot), Francisco Gomez Kodela (stut), Julian Montoya (kaptein en haker) en Thomas Gallo (stut). Plaasvervangers: Agustin Creevy, Joel Sclavi, Eduardo Bello, Matias Alemanno, Rodrigo Bruni, Velez Bazan, Nicolas Sanchez en Matias Moroni.

  • Uitslae van die laaste tien wedstryde tussen Nieu-Seeland en Argentinië:

Nieu-Seeland 46 – 24 Argentinië in Nelson

Nieu-Seeland 35 – 17 Argentinië in Buenos Aires

Nieu-Seeland 20 – 16 Argentinië in Buenos Aires

Argentinië 25 – 15 Nieu-Seeland in Sydney

Nieu-Seeland 38 – 0 Argentinië in Newcastle

Nieu-Seeland 39 – 0 Argentinië in die Gold Coast

Nieu-Seeland 36 – 13 Argentinië in Brisbane

Argentinië 25 – 18 Nieu-Seeland in Christchurch

Nieu-Seeland 53 – 3 Argentinië in Hamilton

Nieu-Seeland 41 – 12 Argentinië in Mendoza.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.