Koch: Bokke wil skrumvuur stook

Vincent Koch. (Foto: GB Jordaan.)

Die Springbok-skrum het in die eerste helfte van die Wêreldbeker-openingswedstryd teen Skotland nie op alle suiers gevuur nie en selfs Frans Malherbe het ʼn strafskop of twee afgestaan.

Maar ná rustyd het hulle na ʼn hoër rat oorgeskakel om die arme Skotte heeltemal te oordonder. En volgens Vincent Koch sal die Bok-voorspelers op dié vertoning wil voortbou.

Die 33-jarige voorryman sal die no. 3-trui vir die Suid-Afrikaners dra wanneer hulle Sondag met Roemenië in Bordeaux kragte meet.

“Ons wil met elke wedstryd beter speel. As ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspan is ons spel in die vaste fasette ons trots en ons wil weekliks ʼn sterker vertoning lewer,” het hy gesê.

Volgens Koch beskik Roemenië oor ʼn goeie pak voorspelers.

“Ek sien uit na die tweestryd. Dit beloof om ʼn fisieke wedstryd te wees; veral onder die voorspelers. Hulle het goed teen Ierland gedoen, stewig geskrum en selfs ʼn lynstaanbal of twee gesteel. Roemenië het ʼn paar groot spelers in hul span en hulle sal beslis hul skrumwerkstaal teen Suid-Afrika wil wys.”

Koch sal saam met Ox Nche en Bongi Mbonambi in die Springbok-skrum sak, terwyl Deon Fourie, Steven Kitshoff en Trevor Nyakane op die plaasvervangersbank is.

Die wedstryd begin Sondag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Grant Williams (regtervleuel), Canan Moodie (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Damian Willemse (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Marco van Staden (flank), Marvin Orie (slot), Jean Kleyn (slot), Vincent Koch (stut), Bongi Mbonambi (kaptein en haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, RG Snyman, Jasper Wiese, Jaden Hendrikse, Faf de Klerk en Jesse Kriel.

Roemenië: Marius Simionescu (heelagter), Tevita Manumua (regtervleuel), Jason Tomane (buitesenter), Taylor Gontineac (binnesenter), Nichola Onutu (linkervleuel), Hinckley Vaovasa (losskakel), Gabriel Rupanu (skrumskakel), Cristian Chirica (kaptein en agtsteman), Vlad Neculau (flank), Andre Gorin (flank), Marius Iftimiciuc (slot), Adrian Motoc (slot), Alexandru Gordas (stut), Ovidiu Cojocaru (haker) en Iulian Hartig (stut). Plaasvervangers: Robert Irimescu, Alexandru Savin, Thomas Cretu, Stefan Iancu, Damian Stratila, Cristi Boboc, Alin Conache en Gabriel Pop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Daai bonus punte gaan op die ou einde baie belangrik wees. Maak jy boe klaar speel jy nommer twee span. Maak jy tweede klaar speel jy nommer een span. Ek glo ons agter lyn gaan lekker baljaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.