Koch waarsku teen Edinburgh se vuur

Die Sharks se Vincent Koch. (Foto: Facebook/Sharks)

Die Sharks het verlede naweek skaars sy tweede wedstryd in 12 Verenigde Rugbykampioenskap-probeerslae gewen toe die Durbaniete die besoekende span van Ulster met 22 – 12 op Kingspark geklop het.

Nou speel hulle Saterdag gasheer vir Edinburgh en die Skotte sal oorgehaal wees om hul Suid-Afrikaanse safari op ʼn wennoot af te sluit nadat hulle sleg teen die Stormers in Kaapstad verloor het.

Volgens Vincent Koch verwag hy ʼn vurige Edinburgh-vertoning in Durban – die meeste van die besoekers se groot kanonne het immers ʼn blaaskans teen die Stormers geniet.

Die Wêreldbeker-wenstut het onlangs sy Sharks-buiging gemaak en hy het saam met Ox Nché toegesien dat die Ulster-skrum in trurat rondgeploeter het.

“Ons wil Saterdag bitter graag op ons beste wees; dit beloof om ʼn taai wedstryd te wees. Edinburgh beskik oor ʼn internasionale voorry terwyl hul lostrio ook met die bestes kan saamgesels,” het Koch gesê.

“Hulle gaan waarskynlik kwaad en teleurgesteld wees met hul vertoning teen die Stormers en hulle sal sake teen ons wil regstel.”

Edinburgh-afrigter Sean Everitt het waarskynlik ook ʼn appeltjie met die Sharks te skil nadat sy paadjies in 2022 met die Durban-span geskei het.

“Sean se teenwoordigheid sal vir Edinburgh bykomende woema gee, maar ons gaan op ons eie spel konsentreer en ons beste in die Sharks-trui gee.”

Teen Ulster het spelers soos Koch, Nché, Eben Etzebeth, Lukhanyo Am en Eduan Keyter die wensaadjie geplant.

Nou – met die oog op die toekoms – sal Sharks-ondersteuners duim vashou dat dit groeikans teen die Skotte kry.

Die Sharks se wedstryd teen Edinburgh begin Saterdag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

VRK-punteleer:

  1. Leinster: 49 punte ná 12 wedstryde
  2. Bulls: 45 punte ná 12 wedstryde
  3. Glasgow Warriors: 44 punte ná 12 wedstryde
  4. Munster: 39 punte ná 12 wedstryde
  5. Stormers: 35 punte ná 12 wedstryde
  6. Edinburgh: 34 punte ná 12 wedstryde
  7. Ulster: 34 punte ná 12 wedstryde
  8. Lions: 34 punte ná 12 wedstryde
  9. Connacht: 33 punte ná 12 wedstryde
  10. Benetton: 33 punte ná 12 wedstryde
  11. Ospreys: 30 punte ná 12 wedstryde
  12. Cardiff: 23 punte ná 12 wedstryde
  13. Scarlets: 16 punte ná 12 wedstryde
  14. Sharks: 14 punte ná 12 wedstryde
  15. Zebre: 14 punte ná 12 wedstryde
  16. Dragons: 11 punte ná 12 wedstryde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.