Sharks en afrigter se paadjies skei

Die Sharks het die afgelope naweek met 35 – 0 teen Cardiff verloor. Foto: Twitter.

Skaars ʼn dag of twee nadat die Sharks met 35 – 0 teen Cardiff verloor het, het die Durbaniete bevestig dat hul paadjies met hoofafrigter Sean Everitt sʼn skei.

Neil Powell sal vir die res van die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen die afrigterleisels vasvat. Die Blitsbok-legende is onlangs as die Sharks se direkteur van rugby aangestel.

“Hierdie besluit is in die beste belang van die span geneem met die oog op die pad vorentoe,” het dr. Eduard Coetzee, die Sharks se uitvoerende hoof, gesê.

Everitt se Durbanse rugbyhoofstuk het in 2008 begin toe hy as die Curriebekerspan se assistentafrigter aangestel is.

Hoogtepunte sluit ʼn spul Curriebeker-eindstryde in, terwyl hy die silwerware saam met die o. 19-span in 2018 omhoog gehou het. Twee jaar later is hy as die Superrugby-hoofafrigter aangestel.

“Ons wil Sean vir sy onskatbare bydrae tot die Sharks bedank, veral tydens die uitdagende Covid-19-tydperk. Hy sal altyd deel van ons familie wees en ek wil hom alles van die beste op sy pad vorentoe toewens.”

Die res van die afrigtersgroep bly onveranderd.

Everitt het die jongste verwikkeling as hartseer bestempel, maar hy het nogtans die rugbyunie vir al die geleenthede en goeie herinneringe bedank.

“Ek was vir amper 15 jaar deel van die Sharks-opset en ek het altyd die span se belange op die hart gedra. Soms stem die uitslae nie altyd ooreen met al die harde werk wat vooraf ingesit is nie.”

Die Sharks speel Vrydag om 19:00 teen die Ospreys in Durban. Hulle beklee tans die 12de plek op die VRK-punteleer.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster 38 punte
  2. Ulster 30 punte
  3. Bulls 29 punte
  4. Stormers 29 punte
  5. Edinburgh 23 punte
  6. Cardiff 22 punte
  7. Lions 19 punte
  8. Benetton 19 punte
  9. Munster 17 punte
  10. Glasgow Warriors 15 punte
  11. Dragons 15 punte
  12. Sharks 15 punte
  13. Connacht 14 punte
  14. Ospreys 14 punte
  15. Scarlets 9 punte
  16. Zebre 4 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Snuffelgids ·

Darem maar hartseer dat hy nou moet alleen die prys betaal…wat van die spelers, watse prys betaal hulle? Die man is sy werk kwyt, ek voel die spelers moet pa staan vir sulke swak vertoning. Sterkte Sean! Spelers behoort hulle te skaam

Andries ·

Feit want hulle het nie volgens plan gespeel wat hulle geoefen het nie.

Kobus ·

Ons wil Sean vir sy onskatbare bydrae ……maar hulle steek hom in die pad? Bly liewer stil , sulke stellings word altyd gemaak wanneer iemand die trekpas kry. Sê so min as moontlik. Dit sal meer geloofwaardigheid aan die bestuur gee

Michael ·

As sy bydrae so onskatbaar was , waarom hom laat gaan? Wil hulle nou ‘n afrigter aanstel wat net ‘n gemiddelde bydrae gaan maak. Bly liewer stil dan

JohanEtz ·

Neil Powell het uitstekend gevaar met die Blits Bokke……

Nico ·

Hierdie besluit was al reeds geneem met Powel se aanstelling. Daar was net gewag op die regte geleentheid wat met die naweek se verloor gekom het.

Tubac ·

Wat n klomp huigelaars. Dit is nou tipies hoe die basse beskerm word. Dit gaan nie net by die Sharks nie, maar ook wereldwyd,RSA ingesluit..

Republikein in die Wes Kaap ·

Sean moet net nie Engeland gaan afrig nie. Hulle is hopeloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.