Kolbe, Arendse slaggereed om Haan-vleuels te oorskadu

Pure vlugvoetige vaardigheid: Suid-Afrika se Cheslin Kolbe. (Foto: Simon King/ProSportImages/DPPI via AFP)

Daar staan net drie wedstryde tussen die Springbokke en Wêreldbeker-glorie; ʼn eer wat die Suid-Afrikaners moontlik vir die vierde keer te beurt kan val.

Maar Frankryk gaan vanaand allesbehalwe kanonvoer in die kwarteindstryd in Parys wees: Die Hane is vinnig en gevaarlik met derduisende ondersteuners wat op die Stade de France sal toesak.

“Dit is beslis ʼn reusewedstryd en daar is baie opwinding – onder die spelers en bestuur – in aanloop tot die kragmeting,” het Cheslin Kolbe gesê.

Die 29-jarige agterspeler is een van die Springbokke wat die Franse rugbystrukture die beste ken: Hy het immers in 82 wedstryde vir Toulouse en 30 vir Toulon uitgedraf.

Hy het onder meer skouers met Antoine Dupont en Charles Ollivon geskuur, terwyl hy ook Kampioenebeker-sukses gesmaak het.

“Die feit dat ek ses jaar lank rugby in Frankryk gespeel het, help my inderdaad so ʼn bietjie. Ek was saam met ʼn paar baie goeie Franse spelers in aksie gewees.”

Vanaand sal hy saam met Kurt-Lee Arendse vir Damian Penaud en Louis Bielle-Biarrey in toom moet hou.

Penaud is met sy ses drieë die toernooi se voorste driedrukker, terwyl die 20-jarige Bielle-Biarrey ʼn baie belangrike drie vir die Fransmanne teen Uruguay gedruk het.

Kolbe het egter al vantevore gewys dat hy nie bang is om ander spelers plat te trek wanneer hulle op volle vaart is nie.

Daarbenewens is hy ook gereed om vanaand met ʼn spesiale vertoning in die Bok-trui vorendag te kom; hy en Arendse beskik immers oor die nodige pypkanvaardighede om wedstryde te wen.

“Ek het goeie herinneringe van die Stade de France, maar dit is alles in die verlede. Nou het ek ʼn geleentheid om nuwe herinneringe te skep; dinge wat my ʼn leeftyd sal bybly.”

Die wedstryd begin om 21:00 en dit word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.