Kolisi: Bokke gereed vir ‘eindstryd’

Makazole Mapimpi en Louis Rees-Zammit in ’n luggeveg. Foto: GB Jordaan.

Dit is vandag reg of weg vir die Springbokke in die derde toets teen Wallis in Kaapstad. ’n Goeie oorwinning sal vir verlede week se blaps in Bloemfontein vergoed, terwyl ’n nederlaag vir ’n baie ongewenste geskiedboek-inskrywing sal sorg.

Hierdie groep sal dan nie net as die eerste Springbokspan bekendstaan wat ’n wedstryd teen Wallis in Suid-Afrika verloor het nie, maar ook as die groep wat ’n reeks prysgegee het.

Tog meen Siya Kolisi dat die Springbokke gereed vir aksie is.

“Ons voorbereidingswerk het goed afgeloop. Wallis is taai teenstanders omdat hulle vir die volle 80 minute rugby speel, maar ons sien uit na die wedstryd,” het die Springbok-kaptein gesê.

Volgens Kolisi het die Suid-Afrikaners verlede naweek se wedstryd goed ontleed en daar is hard agter die skerms gewerk. Die feit dat die kragmeting nou wafferse eindstryd-status geniet, pla hom ook nie veel nie.

“Ons was al vantevore in ’n soortgelyke scenario en dit maak ’n span beslis sterker. Dit is eintlik goed om die seisoen met só ’n drukkoker-wedstryd af te skop omdat ons beslis hierop kan voortbou.”

Terselfdertyd sal dit ook ’n mylpaaltoets vir Eben Etzebeth en Bongi Mbonambi wees. Dié twee voorspelers sal onderskeidelik in hul 100ste en 50ste toets vir Suid-Afrika speel wanneer hulle vanmiddag op die DHL-stadion uitdraf.

“Dit is ’n spesiale geleentheid vir Eben en sy gesin; boonop is hy ook die jongste Springbok nóg om in 100 toetse vir Suid-Afrika te speel. Ons is trots op hom en op Bongi en ons wil hierdie wedstryd vir hulle wen. Maar dit is van selfs groter belang om goed vir die Springbok-embleem, vir die mense van Suid-Afrika te speel.”

Die wedstryd begin vandag om 17:05 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Franco Mostert, Kwagga Smith, Elrigh Louw, Faf de Klerk en Willie le Roux.

Wallis: Liam Williams (heelagter), Louis Rees-Zammit (regtervleuel), George North (buitesenter), Nick Tompkins (binnesenter), Josh Adams (linkervleuel), Dan Biggar (kaptein en losskakel), Kieran Hardy (skrumskakel), Taulupe Faletau (agtsteman), Tommy Reffell (flank), Dan Lydiate (flank), Adam Beard (slot), Will Rowlands (slot), Dillon Lewis (stut), Ryan Elias (haker) en Gareth Thomas (stut). Plaasvervangers: Dewi Lake, Wyn Jones, Sam Wainwright, Alun Wyn Jones, Josh Navidi, Tomos Williams, Gareth Anscombe en Owen Watkin.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Indien sekere spelers nie van kleur was nie, sou hul lankal aan die begin gepos gewees het weens wanprestasie, telkens kans gekry ten koste van beter spelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.